Vyf ná modderstorting by platinummyn vasgekeer

Impala Platinum se Rustenburg-myn. (Foto: Implats)

Vyf mynwerkers was teen Sondagaand nog vermis ná ʼn modderstorting by ʼn myn in Noordwes.

Impala Platinum sê in ʼn verklaring sewe werkers was onder in Impala Rustenburg se skag 6 toe hulle weens ʼn modderstorting vasgekeer is.

Twee van die mynwerkers kon met geringe beserings uit die myn ontsnap en ontvang berading en ondersteuning. Twee soek-en-reddingspanne het intussen die soektog na die vyf vermiste mynwerkers voortgesit.

Volgens die maatskappy is die departement van minerale hulpbronne en energie, asook vakbonde, reeds oor die voorval ingelig. Die myn het ook met die families van die vermiste werkers in verbinding getree om hulle op die hoogte te hou van vordering met die soektog en om berading en ander moontlike ondersteuning te verskaf.

Die voorval volg op ʼn afsonderlike voorval Saterdag toe ʼn kontrakwerker dood is tydens ondergrondse boorwerk.

Nico Muller, hoof van Implats, sê die veiligheid van werkers is die maatskappy se grootste prioriteit en spanne doen alles moontlik om die vermiste werkers te vind.

Hy het die voorval betreur en sê dit kom op ʼn tydstip wat beduidende vordering met die maatskappy se veiligheidsprestasie gemaak is.

Alle bedrywighede by die twee skagte is intussen opgeskort tot ʼn volledige en omvattende verslag oor die voorvalle beskikbaar is.

Suid-Afrika is die wêreld se voorste produsent van platinum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Samuel ·

Dit is baie hartseer. Hoop die vasgekeerde mynwerkers kan betyds gered word.

Blomme ·

So jammer vir die werkers.
Land so ryk aan hulpbronne maar tog so arm in leierskap en integriteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.