Vyf nuwe oorvloei-klinieke vir Kaapstad

Raadslid Zahid Badroodien by die Elsiesrivier-kliniek (Foto: Stad Kaapstad/ANA)

Stad Kaapstad het Maandag vyf nuwe oorvloei-klinieke oopgemaak om kapasiteit te verhoog en sosiale distansiëring te bevorder te midde van die Covid-19-pandemie.

Die fasiliteite is in Elsiesrivier, St Vincent in Belhar, Albow Gardens in Milnerton, Bloekombos en Wallacedene oopgemaak.

Raadslid Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, het gesê 15 oorvloei-fasiliteite sal oor die volgende paar weke oopgemaak word en teen die einde van die projek sal minstens 80 klinieke oor dié fasiliteite beskik. Dit vorm deel van die stadsraad se voorbereidingsplan ter waarde van R70 miljoen.

Die 15 fasiliteite is by Gugulethu, Manenberg, Kuyasa-kliniek, Matthew Goniwe, Luvuyo-kliniek, Nolungile-kliniek, Dr Ivan Toms-kliniek, Ikhwezi-kliniek, Houtbaai, Langa, Masiphumelele, Ocean View, Phumlani, Tafelsig en Weltevreden Valley-kliniek.

Die projek verskaf minstens 153 bykomende ondersoekkamers en behandelingskamers met toegang tot alle nodige hulpbronne.

Raadslid Zahid Badroodien by die Elsiesrivier-kliniek (Foto: Stad Kaapstad/ANA)

“Die oorvloei-klinieke was nodig om sosiale distansiëring te verseker en Covid-19-verwante sake te prioritiseer terwyl algemene dienslewering steeds voortduur. Laasgenoemde is veral noodsaaklik, omdat ons beslis ʼn afname gesien het in die getal pasiënte wat toegang wou bekom tot primêre gesondheidsdienste – veral vir kinderimmuniserings,” het Badroodien bygevoeg.

Die oorvloei-fasiliteite stel die stad in staat om sy Covid-19-protokol te verbeter.

Hy maan inwoners om steeds gereeld die dokter te besoek vir chroniese toestande en hul medisyne af te haal as dit nie afgelewer word nie. “Dit is ook noodsaaklik dat ons inwoners steeds getoets bly word vir toestande soos MIV, TB, hoë bloeddruk en diabetes, omdat voorafbestaande toestande komplikasies kan veroorsaak waar persone positief toets vir Covid-19. Hoe vinniger jy getoets word en ʼn diagnose gemaak word, hoe vinniger kan behandeling begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karin ·

Knap gedaan Wes Kaap hoop dienslewering en instandhouding word nie agterwee gelaat nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.