Vyf onnies in gru-ongeluk, een sterf

Coreen en Martin. Foto: Facebook.

Vyf onderwysers van die Retief Gekombineerde Skool in Kestell in die Vrystaat was Dinsdagoggend saam in ʼn gru-ongeluk betrokke.

Coreen Monk (30) is in die ongeluk oorlede. Abrie Beukes, hoof van die skool, het aan Maroela Media gesê Kestell is tussen Bethlehem en Harrismith geleë en van die onderwysers maak gebruik van saamryklubs om in die oggende skool toe te ry.

“Dit was een van daardie klubs, hulle was vyf onderwysers in die voertuig. Coreen het links agter gesit toe die ongeluk plaasgevind het,” het Beukes gesê.

Volgens hom was hulle omstreeks 07:00 by die laaste afdraai voor die skool toe ʼn vragmotor met ʼn vrag stene hulle motor aan die kant links agter getref het.

“Hulle het [met Coreen] Bethlehem toe gejaag, maar sy is met haar aankoms by die hospitaal dood. Hulle sê haar aorta het geskeur van die trefslag van die botsing,” het Beukes gesê. Die ander vier onderwysers wat in die motor was, Esthea Moll, Joani Odendaal, Thabo Mosea en Felix Schneuder, is in die botsing beseer.

Moll, in haar 30’s, is per helikopter na die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein gehaas met ernstige skade aan haar derde nekwerwel. Volgens Beukes wag dokters eers vir die swelling om te sak voor ʼn operasie oorweeg kan word.

Odendaal, ook in haar 30’s en die bestuurder van die voertuig, het volgens Beukes ook skade aan haar werwels en is baie geskok. Sy sterk tans aan in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Hoogland in Bethlehem.

Mosea (45) het volgens Beukes skade aan sy spiere opgedoen en word ook in die Mediclinic Hoogland in Bethlehem behandel.

Schneuder, in sy 50’s, het agt ribbes gebreek asook skade aan sy werwels opgedoen. Hy word ook in die Mediclinic Hoogland in Bethlehem behandel.

Monk was die afgelope ses jaar ʼn remediërende onderwyseres (RO) by dié skool en het hoofsaaklik met laerskoolkinders gewerk.

“Sy kon kinders wat die minste in die lewe het die mooiste hanteer. Sy was so vriendelik. Dit was altyd vir die kinders so lekker by haar,” het Beukes gesê. “Sy het die fynste hande gehad. Toe Martin haar ring laat maak, het die juwelier vir hom gesê hy kan nie die ring terugbring nie, dis te klein. Dit sal vir niemand pas nie! Sy kon enigiets met daardie handjies doen.”

Coreen word oorleef deur haar man, Martin, en hul tweejarige dogtertjie. Berigte dat die egpaar se dogtertjie saam met Monk in die motor was ten tyde van die ongeluk, is onwaar.

Volgens Beukes het dieselfde predikant wat die ambulans ingewag het by die hospitaal waar Monk dood is, en wat haar en Martin ongeveer vier jaar gelede getrou het, ook Woensdagoggend die personeel kom toespreek.

“Coreen se sussie bly in Australië en dis ʼn groot storie om haar dogter se sertifikate in orde te kry voor sy hierheen kan vlieg. Die begrafnis sal nie voor Maandag wees nie.”

Huldeblyke aan Monk is sedert gister op sosiale media gedeel. Maronelle Blomerus skryf op Facebook: “Daar kom mense oor jou pad wat so ʼn groot indruk maak dat hulle jou die res van jou lewe sal bybly. Liefste Coreen was een van hulle. Jy was ʼn laerskoolmaatjie, ʼn hoërskoolkennis en geselsie, op varsity was jou hart en pragtige glimlag ʼn trekpleister vir so baie. Vandag is my hart seer saam met al jou geliefdes. Ek dra jou man en dogtertjie in my gebede. Net Jesus kan aan hulle vrede bring. Jy was waarlik ʼn engel op aarde, net vir ons geleen. My hart pyn vanaand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Denise ·

Dit is baie baie hartseer sterkte aan haar man en kind !!!!!

Frikkie ·

Die een persoon se naam is verkeerd gespel. Sy heet “Joani Odendaal”. Sterkte aan almal met hierdie slegte slegte gebeure.

Dalene de Vente ·

Dagsê Frikkie

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

FM ·

Ek was ook n onderwyser en voel ook die pyn van Coreen se man, kind en die skoolhoof, personeel en leerders. Onderwysers, volgens my, moet meer erkenning kry vir hul werk, nie net op akademiese gebied nie, maar wat n opregte onderwyser vir kinders beteken mbt sport en menswaardigheid. As ek die kommentaar lees dan glo ek Coreen was so iemand. Mense besef nie wat toegewyde, geroepe onderwysers opoffer vir leerders in n skool nie. Ouers behoort hulle ten volle te ondersteun in opregte dankbaarheid. Onderwys is n ondankbare werk. Ouers en gemeenskap: waardeer die leerkragte en sterk hul hande. Innige meegevoel en baie , baie sterkte aan die familie, skoolhoof, personeel en leerders van die skool. Dis n pynlike gebeurtenis en mag HY julle hierdeur dra.

Hou direkteure van vragmotors verantwoordelik ·

Vragmotors ry net soos hulle plesier want hulle base druk hulle om vinnig af te lewer en die verkeerspolisie is aan die slaap opsoek na omkoopgeld en gee niks om oor enigiets nie. Vervoermaatskappy direkteure moet persoonlik verantwoordelik gehou word want dit is in hulle mag om GPS monitering van hul wettelose vragmotorbestuurders te doen.

Sarie ·

Bitter hartseer nuus…. STERKTE aan haar eggenoot & AL haar geliefdes… Ek dink veràl aan die leerders wie daagliks deur haar onderrig is, veral die kleintjies…

Dit konnie op ñ slegter tyd gebeur het nie! Sò kort voor die skole sluit & àlmal sò uitsien na die vakansie & en die feesgety…

Daar’s bàie probleme & hartseer in òns land; òns het God bàie nodig…. Mag Hý ons behoed & bewaar; wiè & wààr ons, ons ookal mag bevind….

Ronel Smart ·

Coreen was die sagste mens! Sy was elke dag dieselfde: altyd “soft spoken”, altyd vriendelik, ‘n pragtige mens. Sy gaan gemis word. Sterkte vir Fiela, Thabo, Esthea en Joani. En vir die res van die personeel by Retief. Julle is in ons gebede.

honourable member ·

Bitter hartseer. Baie sterkte aan haar man, kind en familie.

Theresa ·

Innige simpatie aan almal wat haar gaan mis!
Wat het die vragmotordrywer aangevang?

Rene Erwee ·

Coreen het Sondae met haar dogterjie buite gewag en net voor die diens moederskamer toe gegaan. Sy het altyd so vriendelik gegroet – ek het altyd gedink dat sy iets spesiaals uitstraal. Ai Martin, mag God jou troos en dra. Mag mooi herinneringe jou dra. Mag julle pragtige dogtertjie weet hoe lief haar mamma vir haar was. Mag julle dogtertjie net so pragtig grootword soos haar mamma. My en Deon se harte is seer.

Maggie Bradley ·

Sy was so sprankelende mensie. My innige simpatie aan haar man, dogtertjie en familie. Mag God julle deur hierdie tyd dra en daardie lee plek in julle lewens met Sy liefde vul.

Sarie ·

Al my simpatie aan die skool en die gesinne van die oorledene en beseerdes. Ja weereens ‘n vragmotor waarskynlik weer oorlaai gewees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.