Kapt. Doniah Mothutsane, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes het omstreeks 15:35 uit die polisievangwa ontsnap en word steeds gesoek. “Polisiebeamptes van Bela-Bela (Warmbad) het tien verdagtes van die Bela-Bela-landdroshof na die Kgosi Mampuru-gevangenis vervoer toe vyf daarin geslaag het om op die hoek van Es’kia Mphahlele- en Bloedstraat uit die polisievoertuig te ontsnap,” het sy gesê.
“Daar is vasgestel hulle het op ʼn manier die gaasdraad verwyder en die agterste venster uitgeskop, uit die voertuig gespring en weggehardloop. Die polisie het die gebied gefynkam, maar geen van die ontsnaptes is weer in hegtenis geneem nie.”
Die vyf verdagtes is Liston Baloyi (22), Innocent Mahlalela (40), Sammy Sibiya (23), Justice Moakiri (27) en Diver Mogudu (25). Hulle is almal van gewapende roof aangekla.
Mothutsane het gesê ʼn ondersoek sal gedoen word om te bepaal of enige polisiebeamptes nalatig was en aanspreeklik gehou moet word. Sy het die publiek gewaarsku om nie die verdagtes te nader nie. Omdat hulle as gevaarlik beskou word moet die polisie eerder gekontak word indien hulle gewaar word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Ja nee – wat sal ‘n mens nou sê (wat gepubliseer sal word)?
Daar bestaan nie so iets nie. Hoe verwyder hulle die gaas en skop die agter venster uit sonder dat die bestuurder dit agterkom? Hy wou dit nie agterkom nie.
Is daar dalk ‘n eetplek op die hoek van Eskia Mphahlele en Bloedstraat?
Ag nee regtig, dis mos nou pateties verby!! Deesdae baie makliker om uit gevangeneskap te ontsnap as om daar in te kom!!! Soos Theresa sê, mens kan nie eers mooi uitspel wat jy van die situasie dink nie, want dit mag dalk nie gepubliseer word nie!!
Kgosi Mampara. Amen.