Vyf ouers word deel van stryd teen Netbal SA se rassediskriminasie

(Argieffoto: Facebook)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandeesweek vordering gemaak in die saak oor rassediskriminasie in skolenetbal nadat vyf ouers wie se kinders deur Netbal Suid-Afrika (NSA) benadeel was, ingestem het om deel te vorm van AfriForum se hofsaak by die Internasionale Netbal Federasie (INF).

Die INF het AfriForum op 13 November ingelig dat AfriForum slegs ’n beroep op sy dissiplinêre en dispuutoplossingsregulasies kan doen indien die burgerregteorganisasie die persoon/persone kan identifiseer wat binne die jurisdiksie van die INF val en namens wie die klag ingedien word.

AfriForum het besluit om ’n klag by die INF in te dien nadat blatante rassediskriminasie tydens die Gautengse skolenetbalproewe in 2019 voorgekom het. AfriForum het klinkklare bewyse dat kwotas toegepas is en byna 40 hoërskoolnetbalspelers hul plekke in spanne weens die toepassing van rassekwotas verloor het. In die organisasie se tweede brief aan die INF dui AfriForum aan watter ouers bereid is om hul name bekend te maak sodat die saak ondersoek kan word.

“AfriForum is van mening dat die getuienis ten minste op ’n prima facie-saak teen NSA dui van oortredings van die statute en regulasies van die INF. Aangesien AfriForum nou deur vyf ouers in hierdie saak ondersteun word, glo ons dat die federasie AfriForum se klag na ’n dissiplinêre paneel sal verwys,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Rassediskriminasie beïnvloed atlete van alle rasse. Dis pas weer bewys toe die Mpumalanga Sunbirds in die Telkom-netballiga hul wedstryd in die eerste afdeling B-halfeindronde moes afstaan omdat dié span te veel swart spelers op die baan gehad het. Dit versterk AfriForum se saak teen die onregverdigheid van rassekwotas” het Van Zyl bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

LANA is ELANè ·

Bitter min mense gee tans om oor sport agv die regering se inmenging op alle vlakke, die kniebuigery het ook nie juis ‘n positiewe bydrae tov mense se moraal rondom sport aangewakker nie. [Kunstenaars word met net soveel weersin bejeën tov hulle gebuigery vir ‘n organisasie waarvan hulle nie ‘n benul het nie]
Mense wil na gesonde kompetisie onder die beste atlete kyk en nie wonder of iemand in ‘n span is agv velkleur nie. Die borge gaan sukkel om mense weer geesdriftig na sport te laat kyk, maar ja, dit is mos maar hoe ons in SA rol!

david ·

Kwotas op alle vlakke is diskriminerend…..dis egter veel erger op skoolvlak.
Die kwotastelsel kan egter na my mening vernietig word as ouers gaan besin of kwota keuses in hulle kinders se beste belang is,
As al die ouers-let wel ouers- nie die skool beheerliggame nie…besluit om te weier dat hulle kinders gekies mag word vir “verteenwoordigende” spanne soos provinsiale spanne , gaan die provinsies probleme kry.
Skole kan nog steeds hulle normale tussenskoolse sport beoefen soos huidiglik sonder inmenging van die rassistese sportbeheerliggame.
As ‘n skool swart spelers in sy spanne het , gaan dit normaalweg voort soos huidiglik.

NIEMAND KAN GEDWING WORD OM VIR ‘N KWOTASPAN TE SPEEL NIE.

Die internasionale beheerliggame het almal anti rassisme klousules in hulle onderskeie grondwette.
Hulle gaan nie optree teen die rassisme in SA sport as ons , wat almal op een of ander wyse betrokke is , nie vir optredes vra nie.

Harry ·

Enige iemand wat ras dryf kan beskou word as ‘n rassis. Ons is almal SA’ners. Talent het nie kleur nie. Mag hierdie waarheid seevier.

Heksie ·

Hierdie probleem stap al n lang pad. Met elke sport leer ken jy die beste atlete wat jaar na jaar saam n pad stap. As die spanne aangekondig word is die name afwesig. Daar is net n paar wat ten spyte van alles nog steeds deelneem. Die groot meerderheid het net besluit om hulle self nie meer bloot te stel aan sulke onaangenaamheid nie.
Hoeveel skitterende atlete gaan nie so verlore ,vir ons land nie?
As jy na die spanne kyk weet jy dit is nie die room van jou provinsie wat daar speel nie maar afgewaterde melk.
Ons was self daar. Twee jaar opgewonde deelgeneem en baie baie kilometers gery vir oefeninge tot die realiteit getref het. Ons het n sport gesoek en gekry waar jou pretasie nie onder die mat ingevee kan word nie.

Maria M S ·

Ná die kniebuigery is my lus vir ENIGE sport in S A geblus!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.