Vyf polisiebeamptes in Oos-Kaap afgemaai

Die toneel. Foto: Verskaf.

Vyf Oos-Kaapse polisiebeamptes en ʼn soldaat van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is Woensdag in die vroeë oggendure buite Queenstown doodgeskiet.

Genl. Khehla John Sitole, die nasionale kommissaris van die polisie, het dié voorval ten sterkste veroordeel. Die polisiebeamptes is doodgeskiet toe ʼn groep gewapende aanvallers op die Ngcobo-polisiestasie tussen Mthatha en Queenstown toegeslaan het.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê die gewapende aanvallers het vroeg vanoggend dié polisiestasie binnegegaan en op die beamptes aan diens losgebrand.

“Drie beamptes is op die plek doodgeskiet en ʼn soldaat wat nie aan diens was nie is ook doodgeskiet terwyl die verdagtes gevlug het,” het Naidoo gesê.

Die verdagtes het volgens Naidoo van die toneel gevlug met ʼn polisiewa en het twee polisiebeamptes saam met hulle geneem.

“Die liggame van die twee beamptes is later langs die pad, sowat ses kilometer van die polisiestasie, aangetref. Dit lyk of albei beamptes op teregstellingswyse geskiet is.”

Sitole het gesê hy is geskok en diep hartseer oor die aanval. “Ek het ʼn taakspan van ervare speurders en lede van die Valke saamgestel om die voorval te ondersoek.”

Dié span sal deur gespesialiseerde spanne en die lugvleuel van die polisie bygestaan word. “Ons sal nie rus totdat ons hierdie hartelose moordenaars vang en aan die pen laat ry nie,” het Sitole bygevoeg.

Sitole het die gemeenskap gevra om die polisie by te staan met enige inligting wat moontlik kan help om die verdagtes te identifiseer.

“Hoewel die motief vir die aanval nog nie duidelik is nie, het ons vasgestel die verdagtes het ʼn kitsbank ʼn entjie weg van die polisiestasie beroof asook tien vuurwapens en die polisiewa van die polisiestasie gesteel.”

Enigiemand met meer inligting oor die voorval kan dit by 08600 10111 aanmeld. Inligting kan anoniem deurgegee word en sal as vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

marous ·

Die balans is verwronge en gaan slegs swaai as die polisie voor die voet begin afmaai , sodat misdadigers en diegene wat geen respek vir hul mede landsburgers het nie , so bevrees raak dat hulle nie eers ‘n koeldrank blikkie sal rondgooi nie.

Lee ·

Ek stem 100% saam met jou. Hulle is nie bang vir die Polisie nie dis waar die grootste probleem lê.

Jan ·

Het hulle darem hulle geld terug gemaak met die oes? “Afgemaai” is so n gevoellose term

Cherokee ·

Inteendeel Jan, dit is ‘n baie beskrywende woord. Het jy wat Jan is ooit met ‘n sekel gewerk? Dan sal jy weet hoe beskrywend die woord is.

Eish ·

Die uitsluitlike gevolg van karakterlose amptenary wat die misdaad wêreld bewapen vir eie gewin. Die vermetelheid om n polisiestasie aan te val!

Sonskyn ·

Jan, gevoellose misdadigers se gevoellose dade moet maar in gevoellose terme uitgedruk word.

Piet Pompies ·

Dit is tragies dat lede van die Polisie en ‘n weermaglid die hoogste prys moet betaal. Hierdie tipe misdaad het niks met armoede of werkloosheid te doen, dit is pure gierigheid en geweldadigheid. As mens kyk na die geweldadige optrede is dit waarskynlik uitgevoer deur persone met militere agtergrond

Speedguard ·

Moet die opskrif nie lees “Vyf Polisiebeamptes en Weermag lid koelbloedig vermoor ” nie! Ek dink die weermag lid se dood is net so tragies!

Arno ·

Sou voorstel bring die doodstraf terug maar dit sal nooit gebeur nie want ons “Goverment” is bang vir kriminele en is meestal self deel daarvan. En tweedens more “Ontsnap” hulle of word net vrygelaat om verder aan te gaan. Hoe meer wetteloosheid hoe beter….. anyway maar net my opinie

C.WS ·

Dankie marous…stem 100℅saam….daar is nie onskuldiges tussen bende nie….want wat soek jy daar as jy nie dieselfde motief as moordenaars het…!!! So sad…sterke aan families….

Dafer ·

Gesien in die lig van wie die regering van die dag is, is dit ‘n baie ongewone misdaad. Klink meer na ‘n doelgerigte aanval om wapens te bekom. Verdag!

Elmarie ·

Dit is voorwaar baie jammer dat hierdie pragtige land so vêr verval het. Dit is die een sinnelose moord op die ander. Dit is nou nie meer net ‘n vraag van wanneer gaan dit eindig nie, maar HOE gaan dit eindig? Hoe lank gaan die mense van Suid-Afrika nog hierdie gemors vat en sluk? Die haat raak groter en groter en die uiteinde daarvan is nooit mooi nie. Kyk maar na die res van Afrika. Hoeveel burgeroorloë, bloedvergieting, onskuldige lewens verliese. Vir diegene wat hierdie haat aandryf!! Hou op om agtertoe te kyk en kyk vorentoe!!! Saam kan ons ‘n wonderlike land bou vir ons nageslagte.

Albatros ·

Nogals gewonder hoe lank dit gaan wees voor hulle polisie BY die polisiestasies gaan begin skiet.

Piet Pompies ·

Ek kan as kind onthou dat daar altyd polisie lede by ‘n stasie was wat gewerk het as wagte, dit vorm deel van die sekerheid.

EKKE ·

Probleem is die polisie is nou ‘n “Diens”en nie meer ‘n “Mag”nie…

Gewapen ·

Soos reeds genoem. Dit is doelgerig en om wapens te kry. Enigste rede hoekom hulle ‘n polisie stasie sal aanval. Nog 10 wapens om meer skelms te bewapen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.