Vyf polisiebeamptes in vyf dae vermoor

Riah Phiyega Foto: GCIS/SAPA

Riah Phiyega Foto: GCIS/SAPA

Genl. Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, het Dinsdag haar ontsteltenis en ernstige kommer oor die aantal polisiebeamptes wat vermoor word, uitgespreek.

Vyf polisiebeamptes is die afgelope vyf dae in afsonderlike voorvalle in Gauteng, Limpopo en die Wes-Kaap vermoor.

Drie polisiebeamptes is Maandag in twee afsonderlike voorvalle in Kaapstad doodgeskiet. Twee polisiebeamptes is in Nyanga vermoor en een in Mfuleni. ʼn 26-jarige sersant van die Gugulethu-polisiestasie is met verskeie skietwonde langs sy motor in Mfuleni naby Kuilsrivier aangetref. Hy was nie in daardie stadium aan diens nie. Die ander twee polisiebeamptes, ʼn 35-jarige sersant en ʼn 28-jarige konstabel, is in Nyanga doodgeskiet. Hulle het ʼn vermoedelik gesteelde voertuig agterna gesit voordat die verdagtes die voertuig verlaat en te voet gevlug het. Hulle is doodgeskiet terwyl hulle vir ʼn insleepvoertuig staan en wag het nadat hulle bevestiging ontvang het die voertuig is gekaap. Albei se vuurwapens is gesteel.

ʼn 54-jarige polisiebeampte is Sondagoggend in Limpopo doodgeskiet terwyl hy aan diens was. Lt. Yezindaba Meshack Shikati en ʼn kollega, konst. Carrol Machaba, het omstreeks 01:40 reageer op ʼn klagte by ʼn kroeg in Ritavi. Hulle was besig om die voorval te ondersoek toe hulle vermoedelik in ʼn lokval gelei is. Twee onbekende mans het in bosse naby die kroeg weggekruip en op die beamptes losgebrand. Shikati is noodlottig gewond, maar Machaba is nie in die skietery beseer nie. Die verdagtes het die beamptes se amptelike vuurwapens gesteel en van die toneel gevlug.

ʼn Polisiebeampte van die Wes-Rand is Vrydag in die oprit na sy huis in Kagiso buite Krugersdorp in Gauteng doodgeskiet. Lt.kol. Knox Chauke (56) van die menslikehulpbronne-afdeling, is verskeie kere in die bolyf geskiet en is op die toneel dood. Niks is van hom gesteel nie.

“Ons is baie hartseer oor die afsterwe van ons kollegas,” het Phiyega gesê. “Ons weet dat hul skielike en ontydige afsterwe ongekende verdriet aan hul familielede, vriende en kollegas besorg.”

Phiyega het onderneem dat die polisie onverpoosd sal werk om die voorvalle te ondersoek. Sy doen ʼn beroep op die publiek om die polisie met hul ondersoek by te staan. Sy versoek dat enigiemand met inligting oor die voorvalle om met die polisie in verbinding te tree deur óf hul naaste polisiestasie te besoek of Crime Stop by 08600 10111 te skakel. “Mense kan anoniem bly en alle inligting sal streng vertroulik hanteer word,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kellies ·

Interresant, die polisie werk in die gevaarlike rigting van misdadigers wat royal treatment kry in SA, dan word daar ernstig gekyk na die moorde van vyf en groot bekommernis uitgespreek. MAAR WAT VAN AL DIE PLAASBOERE WAT NET PROBEER OM KOS TE VOORSIEN SE MOORDE???? HONDERDE???? Skandelik van die Polisie kommissaris. GA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.