Vyf provinsiale DA-leiers het klagtes teen hulle

(Argieffoto: Brenda Masilela/ANA)

Dissiplinêre klagte is tans hangende teen vyf van die DA se provinsiale leiers, terwyl ʼn sesde een reeds bedank het, het die voorsitter van die party se federale regskommissie, adv. Glynnis Breytenbach, aan Maroela Media gesê.

Breytenbach het bevestig dat klagte deur partylede by die federale regskommissie ingedien is teen John Moodey van Gauteng (wat sedertdien bedank het), Jacques Smalle van Limpopo (teen hom het die federale regskommissie ná ʼn ondersoek reeds ʼn formele klag ingedien), Andrew Louw van die Noord-Kaap, Jane Sithole van Mpumalanga, Zwakele Mncwango van KwaZulu-Natal en Nqaba Bhanga van die Oos-Kaap (in laasgenoemde geval is ʼn arbitrasieproses as oplossing aan die gang).

Breytenbach wou nie uitbrei oor die inhoud van die klagte nie, maar volgens Maroela Media se inligting is sommige van die bewerings uiters ernstig, hoewel tans ongetoets. Ander is minder ernstig. Die federale regskommissie moet telkens besluit of daar ʼn prima facie-klag uit elke klag moet voortspruit, waarna ʼn formele klag, soos in Smalle se geval, aanhangig gemaak word.

Daar is net drie provinsiale DA-leiers teen wie geen klagte op die oomblik ondersoek word nie, te wete Joe McGluwa van Noordwes, Bonginkosi Madikizela van die Wes-Kaap en Patricia Kopane van die Vrystaat.

Daar is ook nie klagte hangende teen die waarnemende Gautengse leier, Solly Msimanga, nie.

Joe McGluwa. (Foto: ANA)

In teenstelling met wat McGluwa aan Rapport gesê, het Breytenbach gesê daar is nie tans enige klagte teen McGluwa nie. Hy het die naweek aan die Sondagkoerant gesê daar is wel ʼn klagte teen hom. Volgens hom spruit dit uit politieke opmerkings en gedrag ná die fiasko oor ʼn foto wat ʼn onderwyseres van Schweizer-Reneke aan die begin van verlede jaar van haar gr. 1-klas rondgestuur het waarin kinders van verskillende rasse en tale by aparte tafels sit.

Verskeie van die huidige provinsiale leiers het ook aangedui dat hulle gaan uittree. Moeilike herverkiesingsveldtogte sou glo sommige van hulle in die gesig staar, sommige wil ander uitdagings aanpak en ander glo jy moenie meer as twee termyne dien nie.

Daar is tans ʼn konsepvoorstel om die grondwet van die DA te wysig sodat sekere leiersposisies slegs vir twee opeenvolgende termyne deur dieselfde persoon gevul kan word, maar dit is nog nie van krag nie.

Daardie voorstel sal eers op die DA se virtuele kongres aan die einde van Oktober bespreek word en selfs al sou dit aanvaar word, sou dit nie terugwerkend van krag kon wees nie.

Tot dusver gaan die DA beslis nuwe leiers kry in Gauteng (Moodey tree uit), Noordwes (McGluwa tree uit), die Vrystaat (Kopane tree uit) en KwaZulu-Natal (Mncwango tree uit).

As die nuwe reël oor termynbeperkings aanvaar word, sal Andrew Louw in die Noord-Kaap en Jacques Smalle in Limpopo ook moet terugstaan. In die Noord-Kaap het die parlementslid Willie Aucamp reeds aangedui dat hy ʼn kandidaat sal wees.

Die Oos-Kaap se DA-kongres is afgehandel. Nqaba Bhanga is onbestrede as leier herkies en Andrew Whitfield as voorsitter.

In die Wes-Kaap is daar tot dusver twee kandidate vir die leiersposisie. Dit is die huidige leier en LUR vir vervoer, Bonginkosi Madikizela, en die speaker van die provinsiale wetgewer, Masizole Mnqasela. Bykomende benoemings word ingewag.

Na twintig jaar tree Anton Bredell uit as voorsitter van die DA in die Wes-Kaap om hom verkiesbaar te stel vir die posisie van federale ondervoorsitter. Die gunsteling om by hom oor te neem is die huidige leier van die Oos-streek, Jaco Londt, hoewel benoemings nog nie gesluit het nie.

In die Kaapse Metro-streek heers ʼn bul van ‘n stryd tussen die huidige leier, Grant Twigg, en sy uitdager, Dan Plato, tans burgemeester van Kaapstad. In die Wes-streek word die huidige leier, Erik Marais, uitgedaag deur Koos Steyn. In die Oos-streek is Tertuis Simmers in die binnebaan om by Londt oor te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magda ·

Hoop hulle gaan die straf kry as hulle skuldig is, maar in die ANC is daar 99% van hulle wat n vinger in die staatskas gehad het of nog steeds het. – maar jy hoor NIKS van Ramaphosa oor enige vervolging teen hulle nie. Die DA doen darem ies om hulle aangekla te kry en vonnis op te le na skuldige bevindings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.