Vyf pylsterte in KZN gebore

Die pylsterte is kort nadat hulle gebore is in die see vrygelaat. (Foto: Saambr)

Vyf pylsterte is verlede week by uShaka Marine World in Durban gebore en kort daarna in die see vrygelaat.

Die Suid-Afrikaanse vereniging vir marienebiologienavorsing (Saambr) het in ʼn Facebook-plasing die geboorte van die ronde lintsterte aangekondig.

“Die pylstertjies is Woensdag deur die loop van die dag in die Open Ocean-uitstalling gebore. Dit is die ma se derde werpsel en gelukkig is al vyf wyfies gesond ná die geboorte.”

Die pylsterte is almal 36 cm in deursnee en weeg tussen 1,8 kg en 2 kg.

“Nadat personeel hul gesondheidsondersoeke afgehandel en goedgekeur het, is hulle na die strand geneem en langs die Vetchs-rif op die Durbanse strand vrygelaat,” het Saambr geskryf.

Ronde lintsterte is groot pylsterte met ʼn swart-wit gevlekte voorkoms. Dié spesie staan dikwels bekend as die marmerpylstert weens sy gevlekte oppervlak. Hulle kan tot 110 cm bereik en sowat 150 kg weeg.

“ʼn Groep van dié pylsterte word soms saam gesien, maar dikwels beweeg hulle alleen op die bodem van die see.”

Ronde lintsterte word beskou as ʼn kwesbare spesie wat beskerm moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Flip ·

Dankie dit is lekker om n bietjie goeie nuus te lees vir n slag. Mag hulle n lang produktiewe lewe hê.

Danny ·

Wonderlik is God se Skepping.. Te midde van die land se plunder en mense skendings gaan God se Skepping voort!!

Danie ·

Pragtig!
Ek was baie onlangs by die uShaka en hulle doen wonderlike werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.