Vyf renosterstropers in Limpopo vasgetrek

(Foto: Verskaf)

Die polisie in Limpopo se eenheid vir bedreigde spesies, in samewerking met Wildlife Security, het Donderdag vyf verdagtes vasgetrek wat na bewering betrokke was by renosterstropery en die onwettige handel van olifanttande.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die span het inligting opgevolg oor verdagtes wat beplan het om renosters by ʼn wildreservaat in Gravelotte naby Phalaborwa te stroop.

“Die span het die verdagtes se voertuig langs die R529 in die Letsitele-polisiëringsgebied onderskep waarna hulle die voertuig deursoek en op ʼn geweerslot beslag gelê het.

“Die wetstoepassers het ook ʼn huis in GaSekororo in die Maake-polisiëringsgebied deursoek waar hulle ʼn geweer sonder ʼn geweerslot, ʼn knaldemper en ʼn olifanttand ontdek het,” sê Ledwaba.

Die vyf verdagtes, tussen die ouderdomme van 33 en 45, onder wie vier buitelandse burgers, is op aanklag van sameswering om renosterstropery te pleeg, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, die onwettige besit van ʼn olifanttand en die oortreding van die Immigrasiewet in hegtenis geneem.

Hulle sal op 2 April in die Letsitele- en Maake-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris, het die gesamentlike poging van die spanlede geloof en hulle vir hul verbintenis om wildmisdaad te bekamp en bedreigde spesies te bewaar bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.