Vyf kinders is Dinsdag in ʼn ongeluk buite Groblersdal in Limpopo dood.
Die ongeluk het omstreeks 14:00 op die R574 tussen Groblersdal en Mpudulle plaasgevind. Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het die bestuurder van ʼn Nissan NP200-bakkie beheer oor die voertuig verloor waarna die bakkie verskeie kere gerol het.
Vyf kinders, tussen 15 en 18 jaar oud, is op slag dood. Die bestuurder van die bakkie is beseer en na ʼn hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.
Die oorledenes, almal meisies, was leerders aan die A.M. Mashego Secondary School in Monsterlus. Die oorledenes is geïdentifiseer as Beauty Motsweni, Pearl Rakgalakane, Lucy Monareng, Chantel Monareng en Karabo Mogoaneng.
Mojapelo het gesê die leerders het glo by ʼn plaaslike vulstasie ʼn rygeleentheid gevra waarna die bakkiebestuurder hulle opgelaai het.
Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
22 Kommentare
Dis verskriklik skokkend. Ek hoop hierdie bestuurders gaan tronk toe vir moordE.
Sterkte aan die ouers en familie.
Shoe dit is tragies en baie hartseer, sterkte aan die meisiekinders se ouers en geliefdes!
Wat n verskriklike tragedie – Baie sterkte aan al die Families.
As Min. van Vervoer ernstig is oor padveiligheid, soos wat hy gereeld voorgee, sal daar ‘n totale verbod wees op vervoer van mense agterop bakkies, vragmotors ens.
Hoekom was daar nie busvervoer, of ander veilige vervoer vir hierdie arme meisiekinders nie, Limpopo se Dept van Onderwys, het hulle gefaal, hulle en baie ander kinders moet elke dag onder lewensgevaarlike omstandighede by die skool kom ten terug, en kyk nou wat het met hulle gebeur….