Vyf soek wat uit vangwa ontsnap

(Argieffoto)

Vier dae nadat vyf gevangenes uit ’n polisievangwa in die Oos-Kaap ontsnap het, is die polisie steeds op hul spoor.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het die ontsnapping Dinsdag omstreeks 16:00 op die Nqadu-pad in Mthatha plaasgevind. Die gevangenes was onderweg van die hof in Qumbu na die Wellington-gevangenis in Mthatha.

“Die polisiebeamptes het harde klapgeluide aan die agterkant van die vangwa gehoor. Nadat die beamptes stilgehou het, is hulle deur motoriste ingelig dat die gevangenes ontsnap het,” sê Naidu.

Die gevangenes is geïdentifiseer as Malixole Mkhutyukelwa (22), wat teregstaan op die oortreding van ’n beskermingsbevel en aanranding met die doel om ernstig te beseer, Mkhanyisi Yonwaba Mkhumbuzi, verkragting, (23), Msindisi Rawuzela (28), veediefstal, Aphiwe Jikingqina (32), diefstal, en Masixole Baleni (27), poging tot moord.

Klagte van die ontsnapping uit wetlike aanhouding is ook bykomend aanhangig gemaak.

’n Departementele ondersoek is ook gelas.

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die gevangenes kan lei, kan die ondersoekbeampte, Maliwa Ayanda, by 071 608 6591 bel of die Stop Misdaadnommer, 08600 10111, skakel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.