Vyf stappe vir beter ekonomiese vooruitsigte in 2020

Foto: Pixabay

Die kombinasie van ekonomiese en politieke verwikkelinge in Suid-Afrika die afgelope 12 maande het besonderse belangstelling gegenereer in die vooruitsig vir die ekonomie in 2020.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, meen in 2019 het slegte nuus oor die ekonomie die goeie nuus oorheers en dat die BBP-groeikoers te dikwels in die rooi was.

Die swak BBP-groei van -0,6% in die derde kwartaal van 2019 is gevolg deur swak syfers vir mynbou en vervaardiging, verswakking in kleinhandelomset, geringe verkope van nuwe voertuie en voortgesette lae sakevertroue.

“Die neigings dui daarop dat Suid-Afrika sal sukkel om selfs die 0,5% -groei vir 2019 te bereik, ‘n groeikoers wat nou nog laer kan daal. Met die huidige en toekomstige impak van die hernieude beurtkrag deur Eskom, word voorspellings vir ekonomiese groei deurgaans verminder.”

Volgens Parsons is sommige ekonome selfs van mening dat die ekonomie weer in die tweede helfte van 2019 in ʼn tegniese resessie verval het.

“Groei van net sowat 1% word in 2020 verwag, wat veel laer is as die 1,4-1,6% wat die Reserwebank voorspel het. Groei teen dié lae vlakke word wyd as heeltemal onvoldoende erken as Suid-Afrika die uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid suksesvol te bowe wil kom.”

Parsons sê die kwesbare stand van die land se openbare geldsake is nog ʼn ernstige bedreiging.

“In die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober is daar eerlik en realisties erken dat, tensy meer vordering gemaak word met die vermindering van sowel kostedrywers van die regering as van staatsondernemings soos Eskom en die SAL, die land ‘n ernstige gevaar loop om in ‘n ‘skuldstrik’ te beland.”

Parsons meen die agenda van oplossings wat deur die mediumtermynbegrotingsraamwerk voorgestel is, skiet te kort om die skerp stygende skuldvlakke tot 2022/23 te keer.

“Die fiskale situasie vereis toepaslike en tydige beleidsoptrede.”

Volgens Parsons is die goeie nuus dat inflasie afgeneem het tot in die teikengebied van 3-6% en dat die onus nou op die monetêrebeleidskomitee van die Reserwebank rus om te verduidelik waarom hy nie rentekoerse op sy volgende vergadering in Januarie kan verlaag nie.

Parsons het vyf breë pilare geïdentifiseer waarop beter ekonomiese vooruitsigte reeds in 2020 gebou moet word. Dit sluit in groter dringendheid met besluitneming, veral oor Eskom; dat Suid-Afrika nie langer ʼn benadering van ‘beleid soos gewoonlik’ kan volg nie en die staatsrede en begrotingsrede moet bewys dat die regering moeilike besluite moet neem; dat die implementering van beleid en projekte versterk moet word; dat beleidsondersekerheid verminder en beleggersvertroue gebou moet word; en dat sterk politieke leierskap en vaardige ekonomiese navigasie nodig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

snotklap ·

stap 6. verwyder julle neus uit die minister se gat.
stap 7. dwing bedrieers om geld terug te betaal wat hulle verdoessel het.
stap 8. stuur hulle tronk toe, al is hulle fat cats in die regering
stap 9….

Lou ·

Dit sit ongelukkig nie in Ramaphosa se broek om die besluite te neem en deur te voer nie.
Hy is te bang die ANC skop hom uit as Pres en ook leier van die ANC as hy teen hulle rampspoedige beleidsraamwerk gaan . Dan kan hy en Zuma op mekaar se skouers huil.
Hy is ook bang vir die vakbonde wat die septer swaai by Eskom en SAA. Hy speel maar veilig en sê net die regte goed om almal te paai.

Ja nee ·

Ek voorspel vir 2020………. Daar gaan wel iets met die ekonomie gebeur, dit gaan tot niet gaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.