Vyf sterf glo in ontploffing by Gloria-myn

goud-myn-mynboubedryf

Argieffoto.

Die departement van minerale hulpbronne het Donderdag gesê die soek-en-reddingsoperasie na meer as 20 mense wat ondergronds by die Koornfontein Gloria-steenkoolmyn in Mpumalanga vasgekeer is, word vertraag weens ʼn gebrek aan ventilasie in die skag.

Maroela Media het vroeër berig die groep van 22 mense, vermoedelik burgers van Lesotho, is ondergronds in die myn vasgekeer ná ʼn gasontploffing. Die myn is sowat 36 km buite Middelburg geleë.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig een van die oorledenes se liggaam is intussen na die oppervlak gebring, terwyl nog ʼn man lewend gered is. EWN berig egter vyf sterftes is reeds bevestig.

Intussen sê die departement van minerale hulpbronne dat mynreddingsdienste gasmonsters sal neem om die metaanvlakke in die skag te toets. “Al die kabels wat krag aan die ventilasiewaaiers voorsien is gesteel en dit bemoeilik die reddingspoging,” sê die departement in ʼn verklaring.

Dié kabels moet gevolglik eers weer aangelê word voordat die reddingspoging kan voortgaan.

Maroela Media het vroeër berig 42 Lesotho-burgers het na bewering Woensdag ondergronds gegaan om kabels te steel toe daar ʼn gasontploffing was. Twintig van hulle kon glo na veiligheid beweeg, maar die 22 ander is agtergelaat.

Die Gloria-myn is deel van Optimum Coal se bates wat deur die omstrede Gupta-familie besit word. Die Guptas se mynbates is verlede jaar onder sakeredding geplaas.

Die myn is sedert September gesluit nadat honderde mynwerkers nie salarisse ontvang het nie. Die myn loop sedertdien gereeld onder kabeldiewe deur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LouE ·

Suid Afrika sal baie geld en energie spaar as die tweedehandse handel in koper verbied word. Die bietjie koper wat verlore sal gaan is niks teenoor die miljoene rande wat kabelgebruikers betaal nie.

jennefer ·

Ek stem saam, ipv diefstal aankla, kla aan van moord. In hierdie geval het die 22 dit aan hulself gedoen.

Thinus Erasmus ·

LouE ja dit behoort ontwettig te wees vir enige persoon op straat en die skrootwerwe om enige 2 de handse koper te besit of handeldryf.
Die koperdiewe moet maar die vragte koper wat net deur SA karwy word teiken.

Onnie ·

Nou kos die klomp diewe die belastingbetaler ‘n klomp geld, ek sal hulle wraggies net daar gelos het. Soos hulle daar ingekom het, so moet hulle maar weer daar uit kom. Hulle is nie eers Suid-Afrikaners nie. Kom plunder net ons land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.