
Argieffoto
Die Vrystaatse polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag en bewerings van moontlike alkoholgebruik nadat ʼn staatsambulans en ʼn staatslykswa Sondag in die vroeë oggendure naby Viljoenskroon gebots en die lewe van vyf mense geëis het.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die botsing het omstreeks 02:30 op die R76-pad sowat 15 km buite die dorp plaasgevind.
“Die ambulans en die lykswa het in teenoorgestelde rigtings gery. Die ambulans was met ʼn pasiënt van Potchefstroom af op pad na Kroonstad, terwyl die lykswa van Kroonstad se kant af gekom het,” het Thakeng gesê.
Thakeng het gesê daar was agt mense, die bestuurder en pasiënt ingesluit, in die ambulans. In die lykswa was die bestuurder en sy assistent.
Die voertuie het mekaar reg van voor getref. Die bestuurder van die lykswa is op slag dood en sy assistent het oorleef. Die ambulansbestuurder, ʼn 68-jarige ma en haar 35-jarige dogter en ʼn onbekende man is in die ambulans dood.
“Dit is nie duidelik waarom die onbekende man in die ambulans was nie. Daar word vermoed dat hy ʼn vriend van die ambulansbestuurder is.”
Die pasiënt, twee ambulansassistente en ʼn onbekende vrou het oorleef. Dit is ook nie duidelik waarom dié vrou in die ambulans was nie.
Die oorlewendes is na nabygeleë hospitale gehaas vir mediese behandeling.
“Ons kan nie in dié stadium gerugte bevestig of van die ambulans se insittendes onder die invloed van alkohol was nie. Dit maak deel uit van ons ondersoek wat steeds voortduur,” het Thakeng gesê.
Hy het gesê weens die sensitiwiteit van die saak het die polisie besluit om nie in dié stadium die name van die oorledenes bekend te maak nie.
Die Vrystaatse departement van gesondheid het ook sy eie afsonderlike ondersoek na die ongeluk van stapel gestuur en het onderneem om die families van die slagoffers by te staan.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
Hoekom? Want hulle ry taxi met die ambulanse. Dis hoekom. Hulle is ongelukkig uitgevang
Nou wat gaan die regering daaromtrent doen, seker net skouertjies optrek en se job creation
Brandewyn het nie brieke,…….Petrol en Brandewyn meng nie……..al ry jy ‘n kar, bakkie of ambulans.
Dit is ‘n kombinasie vir dood.
Al die staatsvoertuie is taxis. En mens kan maar fotos neem en aanstuur, daar gebeur niks. Is aanvaarbaar.
Oorlede in ‘n lykswa. Dis half siek.