Vyf sterf toe hulle van polisie wegjaag

Foto: Skermskoot/Blue Security/Facebook

Vyf verdagtes is dood nadat die polisie in Durban in KwaZulu-Natal inligting opgevolg het oor rooftogte in die Kloof- en Pinetown-gebiede.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die honde-eenheid en blitspatrollie het omstreeks 13:00 inligting opgevolg oor verdagtes wat in ʼn wit Mercedes-Benz SUV rondry.

Volgens Mbhele het lede die voertuig gewaar en dit naby Lahee Park in Pinetown probeer voorkeer. “Die verdagtes het op die beamptes losgebrand en in die rigting van die M13-snelweg gejaag. Die polisie het teruggeskiet en die bestuurder van die verdagtes se motor het beheer verloor.”

Mbhele het gesê die verdagtes se motor het die pad verlaat en omgeslaan. “Vyf verdagtes, tussen 25 en 35 jaar oud, is op die toneel dood terwyl ʼn sesde verdagte ernstige beserings opgedoen het.” Dit is nog nie duidelik of van die verdagtes deur die polisie doodgeskiet is en of almal in die ongeluk dood is nie. Die beseerde verdagte is onder polisiebewaking in ʼn hospitaal opgeneem.

Die polisie het op drie vuurwapens waarvan die reeksnommers verwyder is, beslag gelê. “Twee televisiestelle, twee digitale kameras en ʼn skootrekenaar is in die verdagtes se motor gevind.” Volgens Mbhele is die goedere glo tydens ʼn huisroof gesteel en het die verdagtes Maandag twee huisrooftogte uitgevoer voor die polisie hulle voorgekeer het.

Die beseerde verdagte sal van poging tot moord, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, die besit van gesteelde goedere en huisroof aangekla word. Hy sal in die Pinetown-landdroshof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

Genl.maj. Bheki Langa, waarnemende polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, het die span vir hul goeie werk geloof. Hy het sy verligting uitgespreek dat geen polisiebeamptes in die voorval beseer is nie.

“Ons kan nie gedreig word deur misdadigers nie en sal verseker dat ons die burgers van die land beskerm.” Langa het gesê misdadigers moet weet dat polisiebeamptes hulself sal verdedig wanneer hulle aangeval word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lee ·

KZN se SAPS is deesdae baie paraat. Dalk moet hulle in Gauteng en op plase gaan uithelp.

Hannelie ·

Lee ek stem saam met jou lyk my in KZN gebeur daar baie en die polisie is op hul pos. Mag dit ‘n voorbeeld vir die ander streke wees.

Cherokee ·

Natuurlik moet die polisie hulself verdedig wanneer hulle aangeval word. Die polisie moet bewus wees daarvan dat dieselfde reël geld vir die publiek.

lizl ·

Stem saam… as `n polisieman homself mag verdedig as sy lewe in gevaar is… mag ons ook maar ? Of is die publiek se lewe nie soveel werd nie ?

Vraagteken ·

Lizl, natuurlik mag jy! Hoe bedoel jy met jou tweede vraag? Langa het dan duidelik gesê dat hulle: “verseker dat ons die burgers van die land sal beskerm”. Daar is nêrens na die waarde van die publiek se lewens verwys nie.

WitBlits ·

Die skelms het seker nooit die “Arrive Arrive” veldtog gevolg wat baie duidelik gewaarsku het dat “Speed Kills” en ander jaagduiwels moet kennis neem hiervan!

Sarel swartbrand ·

Jy mag, maak net seker jou lewe was op daai stadium wel in gevaar en dat jy dit kan bewys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.