Vyf sterf toe man in bank losbrand

Karl Hoglund, polisiehoof van Sebring, vryf sy kop terwyl hy luister hoe die staat Florida se goewerneur, Ron DeSatis, op ’n nuuskonferensie praat oor die skietvoorval. Foto: ANA

ʼn Gewapende man het Woensdag losgebrand in ʼn bank in die Amerikaanse deelstaat Florida en vyf mense doodgeskiet voordat hy hom aan die polisie oorgegee het.

Die aanvaller het die polisie gebel om hulle te vertel hy het skote geskiet in die bank in die stadjie Sebring. Tydens onderhandelings kon die man nie oorreed word om die bank te verlaat nadat hy hom daarin toegesluit het nie.

ʼn Spesiale polisietaakspan (SWAT) het die bank binnegegaan waarna die man hom eindelik oorgegee het.

Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie en ʼn polisiewoordvoerder sê hy weet nie of die aanval as ʼn gewapende rooftog begin het nie. Die slagoffers moet nog uitgeken word.

“Vandag was ʼn tragiese dag in ons gemeenskap,” het Karl Hoglund, Sebring se polisiehoof, op ʼn mediakonferensie gesê. “Ons het ʼn aansienlike verlies gely aan die hand van ʼn misdadiger wat ʼn sinnelose misdaad gepleeg het.”

Die owerheid het die verdagte uitgeken as die 21-jarige Zephen Xavier, wat in hegtenis geneem is in die tak van die bank SunTrust.

Xavier was ʼn rukkie lank ʼn aanlyn-student van die Stevens-Henager College in Salt Lake City, Utah. ʼn Woordvoerder van die universiteit, Sherrie Martin, het bevestig dat hy by die universiteit ingeskryf was van September tot Desember verlede jaar, toe hy opgeskop het.

Volgens rekords van Florida se departement van korrektiewe dienste is Xavier op 2 November aangestel as leerdertronkbewaarder by die Avon Park- korrektiewe instelling, maar het hy op 9 Januarie bedank. Geen tugprobleme is aangemeld nie.

John Larose, wat langs Xavier se huis woon, het gesê Xavier en sy ma het enkele maande gelede ingetrek. Xavier het nie met die bure gemeng nie, maar Larose het gesê hy kon snags hoor hoe Xavier videospeletjies speel en op die skerm skree.

Die bank sê intussen in ʼn verklaring hulle werk ten nouste met die polisie saam en betreur die lewensverlies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik UAE ·

Hy word arresteer.Almal weet hy is die skieter.Nee wat los die arrestasie en haal hom uit.Spaar tyd en geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.