Vyf terug in hof oor wrede moord op paartjie  

Die hof was Donderdag volgepak met lede van die Kagiso-gemeenskap wat daar was om Cindi en Buthelezi se families te ondersteun (24 Mei 2018). Foto: ANA

Die verhoor van vyf mans wat aangekla word van die moord op ʼn Johannesburgse paartjie het Donderdag weer ʼn struikelblok teëgekom toe die Suid-Gautengse hooggeregshof gehoor het dat die mans steeds nie regsverteenwoordigers het nie.

Staatsaanklaer Carla Brits het die hof versoek om die saak uit te stel. Die saak is tot 20 Junie uitgestel sodat die vyf se regsverteenwoordiging gefinaliseer kan word.

Bheki Mzama (28), Sabatha Matoko (30), Lindokhule Tembani (24), Thamsanqa Msezane (21) en Londani Mzama (23) staan tereg op twee aanklagte van moord, drie van verkragting, ontvoering, roekelose en nalatige bestuur en roof met verswarende omstandighede.

Regter Ramarumo Monama het tydens die hofverrigtinge aan die mans gesê die verhoor sal op 28 Augustus begin. “Dit is geskeduleer om minstens 15 dae lank te duur en daar is aan my gesê dat julle om regshulp aansoek gedoen het, so regshulp-prokureurs sal kom en elkeen van julle besoek en jul verklarings afneem,” het Monama gesê.

“Om seker te maak daar is geen verdere haakplekke nie, stel ek die saak tot Junie uit sodat ek dan ingelig kan word oor die vordering wat gemaak is. Ek wil seker maak dat hierdie saak wel in Augustus begin.”

Msezane is deel van die groep gevangenes wat onlangs uit die Johannesburg-tronk, meer bekend as Sun City, ontsnap het, maar is vinnig weer in hegtenis geneem. Hy word sedertdien in die maksimum sekuriteit- afdeling aangehou.

Die vyf mans word daarvan beskuldig dat hulle in April verlede jaar Jeanette Cindi (34) en haar vriend, Lungelo Buthelezi (31), wreed vermoor het toe die paartjie in Kagiso in die weste van Johannesburg huis toe gestap het nadat hulle die aand gekuier het.

Buthelezi is glo raakgery deur ʼn taxi. Die verdagtes in die taxi het glo stilgehou en gesê hulle sal die beseerde Buthelezi hospitaal toe neem. Cindi, wat vyf maande swanger was, is herhaaldelik verkrag, gestenig en aan die brand gesteek. Buthelezi is ook gestenig en aan die brand gesteek.

Die hof was Donderdag volgepak met lede van die Kagiso-gemeenskap wat daar was om Cindi en Buthelezi se families te ondersteun.

“Weet hulle deur watter pyn hulle ons sit? Ons wil hê hierdie saak moet klaarkry,” het Cindi se suster, Clowy, gesê.

Volgens die klagstaat sal die staat na verwagting 39 getuies roep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

leser ·

swnger vrou herhaaldelik verkrag en gestenig en dan nog aan die brand gesteek, watter regskapende “mens” sal so-iets aanvang

snoefie ·

hulle gaan seker effektiewiglik twee jaar elk sit en dan op goeie gedrag uitkom en oor vuf jaar staan hulle weer daar.

MisouSA ·

Jislaaaaaaik!!
As een van daardie wrede, barbaarse moordenaars net die ‘k-woord ‘ gebruik het en daar was ‘n getuie… was die saak al klaar!!
Dis duidelik erger as moord!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.