Vyf tieners by TO Strand gered

Argieffoto van TO Strand (Foto: Facebook)

Argieffoto van TO Strand (Foto: Facebook)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Saterdag gesê vyf tieners is uit sleurstrome by TO Strand by Port Edward in KwaZulu-Natal gered.

“Die span is Vrydag omstreeks 14:15 ontbied ná ooggetuies gesien het hoe vyf tienerseuns, ongeveer 19 jaar oud, in die see meegesleur word,” het John Nicholas, stasiebevelvoerder van Port Edward, in ʼn verklaring gesê.

“Twee van die tieners se seekajak het vermoedelik omgeslaan, en hulle is in die systroom meegesleur. Twee vriende het hulle probeer help, maar het ook in die sleurstroom beland. ʼn Vyfde vriend het ook probeer, en is ook meegesleur.”

ʼn Lid van die publiek het alarm gemaak.

Reddingswemmers van die NSRI het die Discovery-seevaartuig gebruik om die tieners uit die see te red. Hulle was sowat 200 meter van die strand af.

“NSRI-paramedici het hulle vir uitputting behandel en Netcare 911 se ambulansdiens is ontbied nadat twee van die tieners simptome getoon het dat hulle byna verdrink het. Hulle is in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem. Hulle sal albei na verwagting ten volle herstel,” het Nicholas bygevoeg.

Die drie ander tieners het geen verdere behandeling benodig nie.

“Die NSRI doen ʼn beroep op die publiek om versigtig en bewus te wees van sleurstrome en aangesien die weerstoestande nou verbeter terwyl ons somer nader, kan die seetoestande steeds rof bly ongeag beter weersomstandighede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.