Vyf van polisie agter tralies vir beweerde misdade  

khehla-sitole

Genl. Khehla Sitole die hoof van die SAPD. Foto: Phando Jikelo/ANA .

Genl. Khehla Sitole, polisiehoof, het die inhegtenisneming van vyf polisiebeamptes verwelkom wat na bewering betrokke was by voorvalle van mensehandel, menseroof en afpersing.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die eerste voorval was op 27 Maart toe tien Bangladesjers wat glo deur Zimbabwe na Suid-Afrika gesmokkel is, glo deur polisiemanne ontvoer is. Vier polisielede in twee gemerkte blitspatrollievoertuie het glo die groep Bangladesjers op die N1 voorgekeer.

Op 31 Maart is twee van die tien slagoffers vrygelaat nadat hulle familielede ʼn losprys betaal het.

Naidoo het gesê die polisie se intelligensie-eenheid het onophoudelik aan die saak gewerk en vier lede van die Silverton-blitspatrollie as die vermeende betrokkenes geïdentifiseer. Lasbriewe vir hulle inhegtenisnemings is vandeesweek uitgereik en lede van verskeie polisie-eenhede het vanoggend drie van die polisiekonstabels by die polisie se 10111-inbelsentrum in Silverton in Pretoria aangekeer. Die vierde vermeende betrokkene het in daardie stadium nog nie vir diens aangemeld nie, maar gaan na verwagting binnekort ook aangekeer word, het Naidoo gesê.

In ʼn afsonderlike voorval is twee lede van ʼn intervensiespan in Mamelodi in Pretoria óók in hegtenis geneem, dié keer op ʼn aanklag van afpersing. ʼn Man, vermoedelik ʼn dwelmsmous, het die polisie se teenkorrupsie-eenheid gekontak en ingelig dat polisielede geld van hom eis.

Die twee lede is gisteraand by ʼn restaurant in Silverton aangekeer en die beweerde afpersingsgeld by hulle gekry. Een van die polisielede is verbonde aan die Silverton-polisie, maar is tans ontplooi by ʼn reaksie-eenheid in Mamelodi. Die ander polisielid is ʼn lid van die provinsiale anti-bende-eenheid.

Sitole het sy teleurstelling in die voorvalle uitgespreek.

“Dis ontmoedigend wanneer polisielede wat met die veiligheid van wetsgehoorsame burgers vertrou word, na bewering sélf ook misdaad pleeg,” het Sitole gesê.

Al vyf polisielede is in aanhouding en sal later in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Alida ·

Dit is n gruwelike afstootlike skande vir die SAPD. Dit besmet die getroue lede se name. Sies man. Bheki Cele moet daadwerklik optree. Hy was uitstekend tydens die wereldbeker in 2010 maar deesdae weet mens nie. Die ANC het nou baie verduidelikings voor 8 Mei!

Andreas ·

Ek lees vanoggend ‘n berig op NW24 dat daar in 2018 by Hammanskraal polisiestasie 280 moorde aangemeld is, skuldig bevinding op dié stadium = 0.

willem Botha ·

Ek het dit ook gesien, nogal die minister wat dit bekend gemaak het ,die klomp is vrot van bo na onder.

Wilma ·

Sal seker nooit weer presies huveel polisie beamptes by misdaad betrokke is ni. Dis sal seke skrikwekkende syfers wees

AW ·

Lees:

Ministry Of Crime – An Underworld Exposed (Mandy Wiener)

Heist! – South Africa’s Cash-In-Transit Epidemic Uncovered (Anneliese Burgess)

To Catch A Cop – The Paul O’Sullivan Story (Marianne Thamm)

Crossing The Line When Cops Become Criminals (Liza Grobler)

Finish & Klaar – Selebi”s Fall From Interpol To The Underworld (Adriaan Basson)

Rogue – The Inside Story of SARS’s Elite Crime-busting Unit (Johann Van Loggerenberg with Adrian Lackay)

pieter ·

Een van die dae is da nie mee lede oor om hulle toe te sluit nie,wat nog van misdadigers.

willem Botha ·

Skande,skaamtelose misdadigers hoe kyk julle kul kinders in die oë?

Alida ·

Sulke goed maak dat mens GEEN vertroue in die SAPD het nie. Sies.

Hennie ·

Sithole verwelkom dit, al wat hy kan se. Hy het geen benul hoe elendig vrot sy polisiemag is nie. Sy integriteit is ernstig te betwyfel.

Skerpioen ·

Mensehandel is slegs so suksesvol omdat korrupte politieke partye en korrupte polisie die skuldiges beskerm. Groot geld en hulle smul lekker aan hulle happie. Het Sondag 2weke gelede na n dokumenter gekyk oor mense handel in Ooste en Europa… so hoekam sal dit hier anders wees? Die dag van oordeel kom en niemand kan julle (die skuldiges) dan beskerm nie….

sweis ·

Die polisie was eers die publiek se helde gewees nou is hulle die skurke wat mens bang maak.

CHELLA ·

ek het geen vertroue in die polisie,hul is deel van die skelm streke en soek ook net hul deel van die geld

vat langer om by n mens in nood uit te kom as wat die ou wat die pizza aflewer vat
ek maak eerder staat op ons buurtwag hul is fantasties

Andreas ·

Die pizza-ou se 125cc motorfiets het ten minste petrol in.

Sarel ·

Dit is algemeen bekend dat polisielede, ja ek weet daar is goeies, van die grootste krimenele is. Dit is die lekkerste werk deesdae waar die staat jou van alle middele voorsien om jou werk te doen, misdaad. polisiediens is n stokpertjie.
Sou jy tydens vergaderings die opmerking maak dat dienslewering power is sal jy hoor, moet nie veralgemeen nie, bring die bewyse. Waar wil jy beter bewyse he as nou weer die geval. Ontken, ontken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.