Vyf vas ná Brits-plaasaanval

Argieffoto

Argieffoto

Vyf persone is in hegtenis geneem in verband met ʼn plaasaanval Vrydag in Brits, Noordwes.

Ao Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê vyf verdagtes het omstreeks 19:30 die erf in Roodekoppies betree. “Die eienaar kon die deur sluit voor hulle kon binnekom,” het hy gesê. “Hy het vir sy gesinslede geskree om in hul kamers te bly sodat hulle nie beseer sou word nie.”

Een van die aanvallers het in hierdie stadium glo weggehardloop, het Talane gesê.

“Tydens die bakleiery is die man in sy regteerhand geskiet. Hy het ʼn vuurwapen by hom gehad om homself te verdedig, maar kon dit glo nie gebruik nie, weens die beserings wat hy in sy hand opgedoen het.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord in hierdie geval.

Maroela Media verneem die persoon wat in sy hand geskiet is, is Ampie le Roux. Talane kon nie die naam aan Maroela Media bevestig nie.

“Een van die verdagtes buite die erf het ʼn skietwond in sy linkerbeen opgedoen. Dit is nog nie duidelik hoe die persoon geskiet is nie,” het Talane bygevoeg. “Paramedici het die verdagte op die toneel dood verklaar.”

In hierdie geval ondersoek die polisie ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

Lede van die gemeenskap het die vyf verdagtes aangekeer. “Hulle is tans in Brits se aanhoudingselle. Hulle sal na verwagting Woensdag in die hof verskyn,” het Talane verduidelik.

Gerugte doen die ronde op sosiale media dat dieselfde groep aanvallers glo ook Le Roux se buurman aangeval het en sy vingers afgekap het. Talane het egter bevestig dat daar geen só dossier by die Brits-polisiestasie is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.