Vyf vas ná chaos toe meisie in bendeskietery sterf

Foto: SAPD/Facebook

Die polisie in die Oos-Kaap het vyf verdagtes in hegtenis geneem nadat ʼn 12-jarige meisie die naweek in Bethelsdorp doodgeskiet is en die gemeenskap daarna op ʼn plundertog gegaan het.

Alvineesha Brookes (12) het omstreeks 20:30 Saterdag in Buysstraat in Bloemendal geloop toe sy in die kruisvuur van twee bendes, die Carlitos en die Hondekoppe, beland het. Sy is in die kop geskiet en op die toneel dood verklaar.

Gemeenskapslede het onmiddellik na ʼn vermeende bendelid se huis opgeruk en hom doodgeslaan. Die oorledene is as die 25-jarige Tavern Moss geïdentifiseer, het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, gesê.

Nog twee mense is aangerand, onder wie ʼn 16-jarige tiener wat in ʼn kritieke toestand is. Die huis is ook geplunder.

Die skare het daarna na ʼn ander huis beweeg, ook waar ʼn vermeende bendelid woon. Die huis is met ʼn petrolbom en klippe bestook. Vensters en ʼn motor op die erf is beskadig. Die brand is dadelik geblus.

Volgens Naidu is ʼn 21-jarige verdagte intussen Sondag in hegtenis geneem in verband met die moord op Brookes. Vier verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die dood van Moss, die poging tot moord van die 16-jarige seun en kwaadwillige saakbeskadiging.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

As bendes en geweldenaars deur die polisie uitgeroei word sal die gemeenskap nie reg in eie hande neem nie . Mense is keelvol om uitgelewer te wees en die regering doen niks !

Riaan ·

Vir die wat al met bendegeweld gewerk het sal weet waarvan ek praat. Die gemeenskap weet presies waar hulle wegkruip en hoe hulle dinge doen. Wanneer die polisie navrae of ondersoek doen weet die gemeenskap gewoonlik niks. Die ou argument word nou weer teruggegooi na die Polisie omdat hulle nie hulle werk doen nie. So byt die slang die eienaar wanneer hy hom voer. Baie jammer vir die jong kinders wat vir hulle lewens boet as gevolg van die gemeenskap se onwillgeheid om hierdie bendes vir eens en altyd bloot te stel aan die gereg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.