Vyf vas ná Gupta-klopjag

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Vyf persone sal Donderdag in die Bloemfonteinse streekshof verskyn ná die Valke en die polisie op die Gupta-familie se huis in Saxonwold toegeslaan het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het aan Maroela Media bevestig die persone is oor Gauteng heen in hegtenis geneem. Mulaudzi wou nie die identiteit van die persone bekend maak voor hulle in die hof verskyn het nie.

Volgens mediaberigte is ʼn Gupta-broer reeds in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig daar is glo ook op dokumente beslag gelê tydens die klopjag. Die klopjag by Saxonwold hou verband met die Gupta-familie se verbondenheid aan die Vrede-suiwelprojek asook die voortslepende staatskapingsondersoek.

Die Valke het verlede maand op die Bloemfontein-kantoor van Ace Magashule, premier van die Vrystaat, toegeslaan in verband met die omstrede Vrede-suiwelplaas. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ook ʼn bewaringsbevel bekom teen die Estina-suiwelprojekplaas wat Gupta-bande het.

Daar is verlede jaar onthul dat die Guptas glo miljoene rande gekry het van die Vrystaatse regering se suiwelprojek in Vrede. E-posse wys glo hoe miljoene rande na Gupta-maatskappye oorbetaal en gebruik is om onder meer vir die Gupta-troue te betaal. Die joernalistieke ondersoekeenhede amaBhungane en Scorpio beweer R84 miljoen wat deur die Vrystaatse regering aan die suiwelprojek gegee is, het in die Guptas se hande beland.

In Januarie is adjunkpres. Cyril Ramaphosa deur die DA versoek om te verseker dat die land se grense op ʼn hoë gereedheidgrondslag geplaas word nadat die Valke glo lasbriewe verkry het om minstens een van die Gupta-broers in hegtenis te neem.

City Press het destyds berig die Valke het op aanklaers van die NVG gewag om die lasbriewe te teken sodat die inhegtenisnemings gedoen kan word.

City Press het ook berig daar is beweer die NVG se batebeslagleggingseenheid sou toe nog bewaringsbevele bedien aan maatskappye wat met die beweerde staatskaping, waarby die Gupta-familie geïmpliseer word, verbind kan word. Volgens City Press is die bewaringsbevele vir bates ter waarde van ongeveer R1,6 miljard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Drieks ·

Ace Magashule is verkies as een van die beste van die Anc.
Wie regeer ons, ” 80% kriminele nogsteeds.”

Nico K ·

Dit lyk of dinge nou vinnig gaan verander. Kyk net hoe skielik begin Abrahams nou funksioneer. Weet waar sy brood gebottter is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.