Vyf vas ná Jeppestown-skietery

Foto: @ian_dirk op Twitter.

Foto: @ian_dirk op Twitter.

Vyf verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ʼn skietery Vrydag in Jeppestown, Gauteng, waartydens ʼn polisiekonstabel doodgeskiet en drie verdagtes gewond is.

“Die polisiebeampte is geskiet en het op pad hospitaal toe aan sy beserings beswyk,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. “Vyf verdagtes, waarvan drie gewond is, is in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op ʼn AK47 en vier 9 mm-pistole wat in ʼn verlate minibus gevind is.”

Die skietery het in Karlstraat in Jeppestown plaasgevind.

Die polisiebeamptes was besig met roetinepatrollie toe hulle reageer het op inligting oor ʼn verdagte voertuig. Die polisie het by die toneel opgedaag waar ʼn groep mans in die motor gesit het. Die verdagtes het op die beamptes losgebrand en die polisie het teruggeskiet.

“ʼn Polisiebeampte is geskiet en sy R5-geweer is by hom afgeneem,” het Dlamini bygevoeg. “Hy is op pad na die hospitaal oorlede. Sy kollega, wat ook op die verdagtes geskiet het, is nie beseer nie. ʼn Vangwa se voorruit is beskadig.”

Die verdagtes het in verskillende rigtings gevlug en hulle het die bestuurder van die voertuig agtergelaat. Hy is op die toneel in hegtenis geneem. “Van die verdagtes is gewond tydens die skietery. Drie van die gewonde verdagtes is in ʼn nabygeleë gebou aangekeer waar hulle skuiling gesoek het,” het hy gesê.

Die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na nog drie of vier mans.

Maj. Mack Mngomezulu, woordvoerder van die polisie, het vroeër Vrydag gesê twee polisiebeamptes is ook in Jeppestown geskiet en gewond. Hy kon nie bevestig of die betrokke polisiebeamptes geskiet is toe hulle vermeende gewapende rowers van Melville agtervolg het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lynette ·

Ag, as daar maar net so vinnig na plaas aanvalle en moorde opgetree kon word sou ons landjie baie betet daar uitsien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.