Vyf vas ná moord op JMPD-beampte

(Argieffoto)

Vyf verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n beampte van die Johannesburgse metropolisie (JMPD).

Neo Sepuru (26) is die aand van 31 Maart buite sy huis in Dube Village, Soweto, gekaap voor hy doodgeskiet is. Die kapers het sy uniform uitgetrek en sy motor is dieselfde aand by ’n hostel naby sy huis aan die brand gesteek.

Volgens kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, het verdere ondersoek vasgestel dat die verdagtes vroeër dieselfde aand ’n ander voertuig probeer kaap het, maar nie suksesvol was nie en toe op Sepuru toegeslaan het.

“Die ondersoekspan het onverpoosd gewerk om die verdagtes op te spoor en hulle by hul woonplekke dopgehou. Die polisie het Donderdagaand op die verdagtes by hostelle in Diepkloof en Jabulani toegesak en hulle suksesvol aangekeer.”

Daar is op ’n voertuig en vuurwapen beslag gelê. Die vyf verdagtes, tussen 20 en 55 jaar oud, sal Maandag in die Protea-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

“Die ondersoek gaan voort en die moontlikheid van nog inhegtenisnemings kan nie uitgesluit word nie,” het Mulamu gesê.

Die bestuur van die JMPD het die polisie geloof vir sy ondersoek na die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico ·

Hoekom word daar nie soveel moeite gedoen met ander moorde nie.

Tanniepetoors ·

Wel gedaan. Ek hoop die uniform is ook teruggevind.

Nic ·

ons is nou regtig moeg vir die moorde in suid afrika op wit en swart die regering MOET die doodstraf terug bring ons moet ook aandring op n referendum dan sal ons sien wat ons inwoners wit en swart sê

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.