Vyf vas ná moord op priester

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Die polisie in Hattingspruit naby Dundee in KwaZulu-Natal het vyf verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn priester en verskeie ander misdade soos kaping en roof.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes, tussen 17 en 24 jaar oud, sal binnekort in die Glencoe-landdroshof verskyn. Die inhegtenisnemings volg nadat ʼn voertuig wat aan ’n Heilsleër-priester behoort het, verlate in die Nyanyadu-omgewing gevind is. Die motor was gesluit en is na die Hattingspruit-polisiekantoor gesleep.

Volgens Zwane is daar vasgestel dat die motor aan priester Hamilton Bafana Zulu (39) behoort en dat Zulu die laaste keer op 17 Maart gesien is. Die polisie het intussen inligting ontvang van ʼn persoon wat beroof is deur ʼn groep mans wat die priester se motor gebruik het. Volgens die slagoffer was daar ses mense in die motor, onder wie die priester. Die priester en die ander slagoffer is na Dundee geneem waar hulle gedwing is om geld by ʼn OTM te onttrek. Die ander slagoffer is later afgelaai.

Zwane het gesê die polisie het Maandag ’n deurbraak gemaak toe hulle die eerste verdagte in hegtenis geneem het. Hy het hulle na die Glencoe-omgewing geneem waar nog drie verdagtes in hegtenis geneem is. Zulu se gedeeltelik ontbinde lyk is Dinsdag in die Glencoe-omgewing gevind. Hy het steekwonde aan sy lyf gehad. Die vyfde verdagte is kort daarna in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Gaan hierdie geweld en misdaad nooit in ons land ophou nie? Ons land moet ‘n biddag hou teen die misdaad in ons land – dis al hoe dit opgelos kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.