Vyf vas ná paramedici in Kaapstad beroof is

Argieffoto: Twitter via @_ArriveAlive

Vyf persone is Maandag in hegtenis geneem nadat paramedici met vuurwapens gedreig en beroof is toe hulle ʼn pasiënt met ʼn hartaanval in Heideveld, Athlone in Kaapstad behandel het.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes is tussen 20 en 27 jaar oud.

“Paramedici is omstreeks 00:30 deur ses persone oorval en van hul persoonlike besittings beroof,” het Traut gesê. “Die persone het daarna van die toneel by Carol Court in Heideveld gevlug.”

Sers. Darryl van Noie van die Manenberg-speurtak se ondersoek het hom omstreeks 03:00 na die vyf verdagtes gelei. “Die polisie het beslag gelê op die gesteelde goedere, asook ʼn speelgoedpistool wat vermoedelik tydens die misdaad gebruik is.”

Die sesde verdagte is nog op vrye voet.

Robert Daniels, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Wes-Kaap, het bevestig die nooddienspersoneel is beroof. “Die personeel is nie beseer nie, maar is erg getraumatiseer,” het Daniels verduidelik. “Persoonlike items soos geld, motorsleutels, selfone en hul rybewyse is gesteel. ʼn Saak van gewapende roof is by Manenberg-polisiestasie aangemeld. Die personeel ontvang traumaberading.”

Die verdagtes sal binnekort in die hof in Athlone verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Ai ·

Mens kan nie eers meer vra hoe laag die gespuis sal daal nie, want nes jy dink hulle kan nie laer nie dan wys hulle jou hulle kan.

Hoop die persoon wat die hartaanval gehad het is darem okay?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.