Vyf vas ná PE-betogings

Betogers Donderdag in Walmer. Foto: SAPD

Betogers Donderdag in Walmer. Foto: SAPD

Altesaam vyf mense is Donderdag in hegtenis geneem nadat ʼn groep inwoners van Port Elizabeth in die Oos-Kaap die strate ingevaar het om oor dienslewering te betoog.

Die betogers, van ʼn informele nedersetting, het Donderdag vir die tweede agtereenvolgende dag op verskeie plekke in die spogwoonbuurt, Walmer, saamgedrom en onder meer hoofroetes versper met bande wat aan die brand gesteek is. Van die betogers het ook klippe na verbygaande voertuie gegooi en twee motors beskadig. Die polisie moes skokgranate en rubberkoeëls gebruik om die skare uiteen te jaag. Lees meer hier.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het gesê twee van die vyf mense wat in hegtenis geneem is, word aangekla van openbare geweld. Die ander drie word aangekla van plundery, diefstal en opsetlike saakbeskadiging.

“Vier mense, waaronder ʼn polisiekonstabel, is tydens die skermutseling beseer. Die konstabel is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling,” het sy gesê.

Van Rensburg het Vrydag aan Maroela Media gesê sedert die polisie die betogers Donderdagmiddag uitmekaar gedryf het, is die situasie weer kalm.

“Geen voorvalle is sover aangemeld van groepe wat bymekaargekom het nie,” het sy gesê.

Die polisie hou egter steeds ʼn wakende oog oor die gebied en is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag.

Daar word vermoed dat die gemeenskap betoog oor onopgeloste diensleweringskwessies tussen die groep inwoners en die Nelson Mandela-metro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.