Vyf vas ná rooftog by Polokwane-juwelier

Die vyf mans is dieselfde aand in KwaZulu-Natal aangekeer. (Foto: SA Polisie)

Vyf mans, sommige van hulle nog met van die items wat by ʼn rooftog by ʼn juwelierswinkel in die Savanna-winkelsentrum in Polokwane gebuit is, is in KwaZulu-Natal aangekeer.

Die bende rowers het werkers in die juwelierswinkel Vrydag omstreeks 09:00 met vuurwapens aangehou en van duur juwele beroof, sê kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo.

Lt.genl. Thembi Hadebe, polisiehoof in dié provinsie, het daarna ʼn span ondersoekers aangewys om die verdagtes op te spoor. In ʼn gesamentlike operasie tussen lede van die polisie se opsporingstaakspan in Limpopo, die eenheid vir moord en roof, die Pietermaritzburgse hoofwegpatrollie, Magma Investigations and Security asook Willie K9 Security is vyf mans in die Hilton-omgewing in Pietermaritzburg nagespoor en dieselfde aand nog aangekeer.

Sommige van die gesteelde items is by die groep verdagtes gevind. (Foto: SA Polisie)

“Tydens die inhegtenisneming het die polisie sommige van die gesteelde items gevind en beslag gelê op ʼn grys Toyota Corolla wat as wegkommotor gebruik is,” sê Ledwaba.

Die mans is tussen 25 en 35 jaar oud en verskyn binnekort in die Polokwane-landdroshof.

Hadebe sê die inhegtenisnemings stuur ʼn boodskap dat die provinsie “nie die speelterrein van misdadigers” gaan wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

skurweberg ·

Vir die regering is dit musiek in hulle ore. Nuwe manier van werskepping. Vat by die wat meer het as jy. Dis nie sonde nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.