Vyf vas ná ses in bus doodbrand

Die uitgebrande bus. Foto: SAPD

Vyf mense is in hegtenis geneem nadat ʼn bus vol mynwerkers Maandagaand met opset aan die brand gesteek is en ses mense doodgebrand het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn spesiale taakspan het twee dae en nagte deur gewerk om die “gruwelike voorval” te ondersoek. Dit het daartoe gelei dat vyf mense op verskillende plekke in hegtenis geneem is.

Die vyf verdagtes, tussen 21 en 30 jaar oud, sal Donderdag in die Mecklenburg-landdroshof op ses aanklagte van moord, poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging verskyn.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het by die Driekop-busstasie buite Burgersfort in Limpopo gebeur waar mynwerkers opgelaai is om hul aandskof te begin. Die bus het omstreeks 20:00 by die stasie stilgehou toe twee onbekende verdagtes in die bus geklim het. Die verdagtes het ʼn vlambare vloeistof oor die bus uitgegooi, dit aan die brand gesteek en vinnig uitgespring.

Die hele bus het onmiddellik vlam gevat met ongeveer 50 mense binne. Van die passasiers kon daarin slaag om deur die vensters te ontsnap, maar ses mense het binne die bus doodgebrand. Altesaam 28 mense is met brandwonde na ʼn hospitaal gehaas.

Mojapelo het gesê die proses om die oorledenes uit te ken het reeds begin en hul name sal binnekort bekendgemaak word.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekspan gelukgewens met hul pogings om die verdagtes so vinnig vas te trek.

Volgens Mojapelo kan nog inhegtenisnemings moontlik volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Antoinette ·

Het Madame Sisulu al iets hieroor geopper? Dis swart teen swart. Veel meer swart teen swart misdade vind plaas. En nou het sy ook ‘n eiertjie te le vir Israel. Daar is ‘n hoe persentasie Jode in hierdie land met familie in Israel. Hulle is sekerlik ook bewus van wat hier in ons ‘veilige’ land aangaan. Wat laat haar dink Israel sal hulle hoegenaamd aan haar steur?

Piet Pompies ·

Jag die misdadigers en vang hulle sodat die boodskap versprei dat dit nie die moeite werd is om skelm te wees. Die manne moet maar in die ry staan vir moord want dit was hul doel, hulle het gekom met die nodige toerusting om dood te maak.

Awie Opperman ·

Of ‘n loongeskil. Dis verbasend dat sommige kriminele so vinnig vasgetrek word terwyl ander vir maande lank op vrye voet is. Ek is steeds bly dat die booswigte gevang is. Nou wag ek net vir die spesiale taakspan wat plaasmoorde moet ondersoek.

De Villiers ·

Daar moet ‘n register saamgestel word van persone wat aan brandstigting skuldig bevind word, en vrylik beskikbaar wees. Dit sal verhoed dat werkgewers sulkes indiens neem, want hulle is net ‘n gevaar vir die samelewing en eiendom.

CG ·

Die “Mother of the Nation”, heldin van die EEF, ANC en DA, het gesê: “With our matches and our tyres, we will liberate
this country!”

Essa ·

Baie bly oor hierdie arrestasies van bose geweldenaars, seker in die naam van protes optrede of homofobie of wat ook al. Wreedaards. Hoop hulle vervolging is suksesvol.

Chelle ·

Die Polisie het mos in die geval R500 000 uitgeloof om die skuldiges aan te keer. En kort voor lank was hul aangekeer. So wie kry die geld/ beloning? (Dit was vrek vinnig, bygesê).Nog nooit gesien ‘n saak word so vinnig opgelos nie. Maar dankie, anyway.

Lizzy ·

Daar word nooit geld uitgeloof vir plaasmoorde nie. Seker nie ñ prioriteit om dié skuldiges aan te keer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.