Vyf vas ná transitorooftog wat lewe van wag eis

(Argieffoto: SA Polisie)

Vyf mense was teen Donderdag al in hegtenis geneem in verband met ʼn transitorooftog die afgelope naweek in Mecklenburg, Limpopo. ʼn Veiligheidswag het in die rooftog omgekom.

ʼn Groep gewapende aanvallers het Saterdag op ʼn transitovoertuig langs die R37 in dié gebied toegeslaan en die voertuig opgeblaas. Die veiligheidswag wat die voertuig bestuur het, is in die voorval dood. Die aanvallers het met ʼn onbekende bedrag geld gevlug.

Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê vier verdagtes, Herbet Mbuyane (40), Albert Matemane (40), Victor Nonyane (37) en Prince Mdluli (34), is Sondag deur die provinsiale opsporingspan buite Hazyview in Mpumalanga en in Burgersfort in Limpopo in hegtenis geneem.

Die verdagtes wat in Hazyview voorgekeer is, was in besit van gebruikte patrone van ʼn AK47-vuurwapen en ʼn onbekende bedrag geld.

Verdere leidrade is opgevolg, wat die polisie na Mashifanepark in Burgersfort gelei het. Nog ʼn verdagte is in een van die voertuie voorgekeer wat tydens die transitorooftog gebruik is. Geld en duursame klere ter waarde van R50 000 is in dié verdagte se besit gevind.

Dié vier verdagtes het reeds op aanklag van moord en roof met verswarende omstandighede in die Moroke-landdroshof verskyn. Hulle sal op 6 Desember om borgtog aansoek doen en bly intussen in aanhouding.

Mashaba sê die verdagtes was ten tyde van die rooftog op borgtog vrygelaat nadat hulle vroeër in verband met ʼn soortgelyke voorval in hegtenis geneem is.

ʼn Vyfde verdagte is Donderdag by Ga Manyaka net buite Mecklenburg vasgetrek.

Hy sal binnekort in die Tubatse-landdroshof op aanklag van moord en roof met verswarende omstandighede verskyn.

Die ondersoek duur voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kabous ·

Nou vir wat kry die goed borg na die eerste geval?, net om weer dieselfde te doen!!, en gewaarborg hulle gaan weer borg kry!!!!!

Sobymykoolkop ·

Verseker net in SA waar jy vir moord, transitoroof en vergragting borg kry, net om dit weer te gaan doen

Waarnemer ·

Is dit nie belaglik verby nie…..borgtog vir nmoordenars!!!!net om dit weer te doen en weer aansoek doen vir borgtog.

Kokerboom ·

Net VAS? Beste wat SAP aan die boewe kan doen terwyl een persoon sy lewe gegee het???

domheks ·

Ons regstelsel in SA is gekaap! Hoe die duiwel kan jy borg toestaan aan TRANSITO ROWERS/MOORDENAARS ??? Die landdros moet sommer ook aangekla word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.