Vyf vas oor betoging ná ma se skietdood

Inwoners van Westbury, Johannesburg, betoog sedert Vrydag teen bendegeweld en wat hulle beskryf as die polisie se sameswering met misdadige elemente in die voorstad. Foto: Facebook

Die polisie sê die situasie is steeds gespanne in die weste van Johannesburg waar vyf mense vanoggend op aanklag van openbare geweld in hegtenis geneem is.

Kapt. Kay Makhubela, Gautengse polisiewoordvoerder, sê lede van die polisie, Johannesburgse metropolisie en eenheid vir openbare orde is steeds op die toneel in Westbury.

Die gemeenskap het Vrydag vir die eerste keer opgeruk om teen bendegeweld te betoog. Dit volg op ʼn voorval Donderdag toe ʼn 45-jarige ma doodgeskiet en haar susterskind gewond is in ʼn beweerde bendeskietery in die woongebied.

Inwoners van Westbury beskuldig die polisie intussen daarvan dat hulle op mense geskiet het wat vreedsaam betoog het. Hulle beweer plaaslike dwelmhandelaars koop die polisie om, berig EWN.

Nadat die skare Vrydag oproerig geraak en die polisie daarvan beskuldig het dat hulle rassisties en korrup is, het die polisie met rubberkoeëls op hulle geskiet.

Maandagoggend was wetstoepassers

op hul hoede toe inwoners teruggekeer het na die strate om hul kommer uit te spreek oor die hoë misdaadsyfer in die voorstad en wat hulle as ʼn onbevredigende reaksie van die polisie beskryf.

Inwoners het intussen ʼn beroep op die Gautengse regering gedoen om ondersoek in te stel na bewerings van samewerking tussen die polisie en diegene wat verantwoordelik is vir die voortslepende geweld in die gebied, berig African News Agency.

“Vandag se optrede deur die gemeenskap wys dat hulle keelvol is vir die mislukte ANC-regering en dat hulle smag na verandering wat die orde herstel en die mense veilig hou,” het Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat in Gauteng, gesê.

Msimanga, wat ook burgemeester van Tshwane is, het gesê Johannesburg se metropolisie het die getal beamptes vermeerder wat misdaad in die omgewing moet bekamp, maar die SAPD se sigbaarheid het nie verbeter nie.

“Dis hoog tyd dat inwoners ʼn eerlike, professionele en goed toegeruste polisiediens kry wat nie korrup, gevoelloos en kop in een mus met bendelede en dwelmhandelaars is nie,” het hy gesê.

Lt.genl. Deliwe de Lange, die provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het die gemeenskap Maandagmiddag toegespreek en onderneem om ʼn mediaverklaring oor die gesprek uit te reik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AW ·

“Every society gets the kind of criminal it deserves. What is equally true is that every community gets the kind of law enforcement it insist on.” (Robert F. Kennedy)

Melanie ·

Om amok te maak werp geen vrugte af nie. Maar die mense is totaal raadop en sal dus enigiets doen om te wys hulle is moeg vir wat in hulle gebied aangaan. Dit is nie net daardie polisie kantoor wat ondersoek moet word nie, maar alle polisie kantore. Ek het ‘n paar weke gelede vyf keer die SAPS ontbied en elke keer het hulle gese hulle is besig.

ZAR ·

Ek is dankbaar dat 5 mense vasgetrek is. Ek wens net dat dit ook so spoedig kon gebeur in die Kaapse Vlaktes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.