Vyf vas oor gewapende roof by poskantoor

Rooftog by Du Noon-poskantoor (Foto: SAPD Wes-Kaap)

Vier mans en ʼn vrou is Woensdag in hegtenis geneem kort ná ʼn gewapende roof by die Du Noon-poskantoor in Milnerton in die Wes-Kaap.

Kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes van die Wes-Kaapse blitspatrollie en die honde-eenheid het vinnig reageer op ʼn radioberig oor die rooftog en het in die onmiddellike omgewing na die wegkomvoertuig gesoek. “Die voertuig is op die N1-snelweg opgemerk en naby Jip de Jager-afrit voorgekeer. Al vyf verdagtes is in hegtenis geneem,” het hy gesê.

Beamptes het beslag gelê op drie ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en ʼn onbekende bedrag kontant.

Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in ʼn hof in Bellville verskyn.

Intussen is Aloyce Haule (34) Dinsdag deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) aangekla op aanklagte van sakeroof en diefstal. “Hy word nou met vermoedelik drie rooftogte verbind by poskantore in Jansenville, Joubertina en Graaff-Reinet,” het Lwando Zenzile, woordvoerder van die Valke, in ʼn verklaring gesê. Dié rooftogte het in Junie 2019 plaasgevind.

ʼn Voorlopige ondersoek het Haule met die rooftogte op onderskeidelik 3 Junie 2019 en 4 Junie 2019 onderskeidelik in Joubertina en Graaff-Reinet verbind en hy is op 18 Junie 2019 by sy huis in Schauderville in Port Elizabeth in hegtenis geneem.
Tydens sy inhegtenisneming het beamptes beslag gelê op springstof en kontant wat met ink bevlek is. ʼn Verdere ondersoek het hom verbind met die rooftog by die poskantoor in Jansenville op 2 Junie 2019.

“Die drie sake is nou gekombineer en Haule sal na verwagting op 29 Januarie 2021 in die Motherwell-landdroshof verskyn,” het Zenzile bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Persheks Adri ·

My vraag bly steeds waar kry die kriminele die wapens? Dis nou wat my die hel in maak, want Cele wil ons ontwapen ons wat wetsgehoorsame burgers is ek kan ‘n aar bars só irriteer dit my pffft

Nico ·

Persheks, dit is ook my vraag, daar word te veel wapens in gesmokkel, die SAPD weet wat om te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.