Vyf mans is in Limpopo in hegtenis geneem nadat ʼn ietermago, wat ʼn bedreigde spesie is, in hul besit gevind is.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die mans is Maandag omstreeks 18:25 in die Hoedspruit-omgewing in hegtenis geneem.
“Die polisie het inligting ontvang dat ʼn voertuig met ʼn ietermago daarin van Acornhoek in Mpumalanga op pad na Hoedspruit is,” het Ngoepe gesê.
“Hulle het vinnig gereageer en die voertuig van die pad getrek. Die voertuig is deursoek en ʼn lewendige ietermago is in die mans se besit gevind.”
Die vyf verdagtes, tussen 26 en 52 jaar oud, is in hegtenis geneem. Hulle is van verskeie plekke in Limpopo, waaronder Malamulele, Lulekani en Tzaneen.
Die ietermago is na ʼn veilige hawe in Hoedspruit geneem.
Die verdagtes sal na verwagting Woensdag in die Hoedspruit-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ʼn beskermde spesie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
5 Kommentare
MM hou op hoogte asseblief wonder watter soort straf is dit……………..
Vuilgoed. En so verwoes hulle als wat in hulle pad kom.
Kan iemand my dalk sê wat die rede is hoekom so baie mense deesdae onwettig handel met die arme diertjies?? Gebruik hulle dit soos Rinohorn of hou mense dit aan vir troeteldiere