Vyf vas oor miljoene se beweerde Covid-19-bedrog

(Foto: Facebook)

Vyf verdagtes, twee vroue en drie mans, tussen 25 en 68 jaar oud, is Saterdagoggend vroeg in hegtenis geneem deur die Gautengse direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Dit volg ná ʼn intensiewe ondersoek oor ʼn saak wat by Brooklyn-polisiestasie in Pretoria aanhangig gemaak is en met die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Ters-voordeel verband hou, het kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, gesê.

Die ondersoek het beamptes na verskeie huise in Soshanguve, Atteridgeville en Mamelodi in Pretoria gelei. Vyf voertuie, insluitend ʼn Range Rover Evoque, is tydens die inhegtenisnemings gekonfiskeer, insluitend ander items wat vermoedelik “gekoop is met geld wat nie aan die verdagtes behoort het nie”, het Mogale bygevoeg.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Pretoriase handelsmisdaadhof verskyn op aanklag van bedrog, diefstal en geldwassery. “Hul name mag nog nie bekend gemaak word nie. Die saak hou verband met R5,7 miljoen se WVF-fondse wat vir 1 400 werkers bedoel is wat deur die afsonderingsperiode geraak is. Die geld is na bewering op ʼn bedrieglike wyse in die bankrekening van ʼn werker inbetaal.”

Die geld is daarna binne vyf dae na vriende en sakevennote van die ontvanger versprei.

Die Batebeslagleggingseenheid en die WVF het die saak ondersoek en 28 bankrekeninge is intussen gevries in verband met die bedrieglike transaksie.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het die beamptes geloof vir die inhegtenisnemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jackie

Goeie werk Valke

Lorette

Intussen moet die werkers vir wie die geld bedoel was, sukkel om aan die lewe te bly. Ek verstaan nie hoe dit gebeur het nie. ek moet my bewyse dat die geld aan die wernemers uitbetaal word, instuur na die WVF! Miskien moet ondersoek by WVF self ook gedoen word. As ons nie die gelde ontvang het nie, sou ons sukkel om te oorleef as besigheid!

Snowball

“Hello Africa! Tell me how you’re doin’. Hello Motherland! Tell me how you’re doin’. ”
Nee dit gaan lekker Dr Alban, nie veel het verander nie…

Die Wolf

Our peoples help hulle self van our peoples!

Gawie

Ek wil graag weet hoe slaap daardie mense – ‘n blinknuwe Range Rover staan in die garage, maar as gevolg daarvan moes 1400 mense honger gaan slaap!