Vyf vas oor polisiebeampte se moord

Argieffoto

Argieffoto

Vier mans het Maandag in die Cradock-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn op aanklag van die moord op ʼn polisiebeampte Vrydag by die Spar in Cala.

Maroela Media het vroeër berig konst. Joshua Gungqa is op 17 Junie doodgeskiet toe ʼn groep van sewe gewapende mans die winkel bestorm het. Hulle wou Gungqa ontwapen, en hy is tydens die struweling doodgeskiet.

Een vermeende rower is ook op die toneel doodgeskiet.

“Die rowers het daarna ʼn onbekende bedrag uit die kasregisters gesteel en met die oorlede polisiebeampte se vuurwapen gevlug,” het kapt. Anelisa Feni, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die Valke, beamptes van die Queenstown-polisie en Cradock se honde-eenheid het Saterdag hul ondersoek voortgesit. “Hulle het inligting ontvang waar Gungqa se dienspistool kan wees. ʼn Padblokkade is opgestel en Masithembele Mbali (37), Xolisile Maawu (31), Simphiwe Mkheselele (32) en Cingile Jamda (32) is in hegtenis geneem. Twee 9 mm-pistole is glo ook in hul besit gevind.”

Feni het gesê die vier mans, wat tereg staan op aanklag van moord en roof, sal Woensdag weer in die Cala-landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding.

Die vyfde verdagte, ʼn 42-jarige man, is Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 deur lede van die Ngcobo- en Cala-polisie in hegtenis geneem. “Die verdagte het die polisie gewys waar hy en sy medebeskuldigdes hul wegkomvoertuig gelaat het. ʼn Uitgebrande Nissan Hardbody is in die Tsomo-rivier gevind,” het sy bygevoeg.

Die man het glo ook aan die polisie gewys waar hulle die liggaam van ʼn 36-jarige man, wat hulle glo ook vermoor het, gestort het.

Die vyfde verdagte sal Woensdag saam met die vier mans in die Cala-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.