Vyf vas oor wapens; dalk met rooftog verbind

rooftog

Foto: SAPD

Vyf vermeende rowers is in die Oos-Kaap in hegtenis geneem. Daar is ook op vuurwapens, ammunisie en ander goedere beslag gelê.

Kol. Gcinikaya Taleni, woordvoerder van die polisie, het gesê die inhegtenisnemings het gevolg ná ʼn rooftog Saterdagoggend in Lady Frere. Polisiebeamptes het ná die rooftog patrollies opgeskerp. Die mans se motor is tydens een van die patrollies van die pad af getrek en deursoek waarna hulle in hegtenis geneem is.

Volgens Taleni sal die verdagtes Dinsdag in die Lady Frere-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, asook vermoedelik gesteelde goedere. Taleni het gesê daar kan moontlik nog aanklagte teen die verdagtes aanhangig gemaak word indien hulle positief verbind kan word aan die rooftog in Lady Frere.

Taleni het gesê ʼn groep gewapende mans het omstreeks 08:25 Saterdagoggend ʼn supermark in Lady Frere binnegestorm en kliënte en personeel beveel om op die grond te lê. Die bestuurder van die supermark is beveel om die kluis oop te sluit. Die rowers het kontant uit die kluis gesteel, die kasregisters leeggemaak en kliënte en personeel van hul persoonlik besittings beroof. Niemand is tydens die rooftog beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.