Vyf vas toe polisie tydens huisrooftogte toeslaan

Foto: SAPD/Facebook

Vyf verdagtes is Saterdagaand in hegtenis geneem nadat die Gautengse polisie op drie huise toegeslaan het terwyl daar ʼn huisroof aan die gang was.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê in die eerste voorval het die polisie Saterdagaand inligting van ʼn anonieme bron ontvang dat daar by ʼn huis in Midrand ʼn huisroof aan die gang was. Polisiebeamptes het by die huis opgedaag terwyl drie verdagtes besig was om die gesin binne die huis aan te hou.

“Die verdagtes het probeer vlug en twee van hulle is vasgetrek. Een van die verdagtes is in die proses geskiet,” het Dlamini gesê. “Die derde verdagte kon daarin slaag om met ʼn gesteelde voertuig te vlug. Die polisie volg tans alle moontlike leidrade op om hom op te spoor.” Dlamini het gesê daar is op die toneel op drie onwettige vuurwapens, ʼn seinblokkeringstoestel, hamers en balaklawas beslag gelê.

In ʼn soortgelyke voorval Saterdagaand het polisiebeamptes op inligting gereageer dat ʼn rooftog by ʼn huis in Rietgat, noord van Pretoria, aan die gang was. Toe polisiebeamptes by die toneel opdaag, het ʼn skietgeveg tussen hulle en die verdagtes ontstaan. Volgens Dlamini is twee verdagtes in hegtenis geneem en is daar op twee vuurwapens en die verdagtes se wegkommotor beslag gelê. Niemand is tydens die skietery beseer nie.

Polisiebeamptes het ook Saterdagaand gereageer op inligting van verdagte mense wat in Pretoria-Noord opgemerk is. “Die polisie het vasgestel dat die verdagtes by ʼn huisbraak betrokke was en het hulle voorgekeer terwyl hulle van die toneel weggejaag het. ʼn Skietgeveg het tussen die polisie en die verdagtes ontstaan en een verdagte is gewond,” het Dlamini gesê.

ʼn Tweede verdagte kon daarin slaag om te ontsnap. Daar is op hierdie toneel op die verdagtes se wegkommotor en gesteelde goedere binne die motor beslag gelê.

Lt.genl. Deliwe de Lange, die provinsiale polisiekommissaris, het die onderskeie polisiebeamptes gelukgewens met die inhegtenisnemings. “Hierdie inhegtenisnemings is te dankie aan ondersteuning deur die gemeenskap en samewerking deur anonieme inligting wat aan die polisie deurgegee word,” het De Lange gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Willem de Klerk ·

Die soort optredes sal ons land weer veilig maak! Welgedaan!

Cherokee ·

Soortgelyk aan wat redelik onlangs deur ANC-regeringsamptenare gebruik is tydens ‘n parlementsitting om te verhoed dat joernaliste nuus kon uitstuur. Die opposisie was woedend daaroor en die ANC het dit ontken.

Marí ·

Kan iemand met tegniese kennis asseblief vir ons meer vertel dankie.

Scalla ·

Die skelms ken mos mekaar, as een van hul trawante ontsnap het is daar mos baie maniere om die wat wel gevang is te laat sing en met die sak patats vorendag kom .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.