Vyf vas vir aanval op afgetrede SAUK-redakteur

Barry Claasen (Foto: Barry Claasen/Facebook)

Vyf verdagtes is Dinsdagoggend in Mangaung digby Bloemfontein in hegtenis geneem vir die aanval op ʼn afgetrede redakteur van die SAUK. Hulle word boonop verbind met die diefstal van sy motor ʼn paar dae later.

Oudredakteur Barry Claasen (65) is verlede Woensdag helder oordag in sy woonstel in Universitas in Bloemfontein erg aangerand. Claasen was langer as 30 jaar ʼn verslaggewer by die SAUK en het later redakteur geword.

Brig. Motantsi Makhele, die woordvoerder van die polisie, sê die verdagtes het die middag in Claasen se woonstel ingebreek waar hulle hom toe oorval en aangerand het. Hulle het sy Huawei-selfoon en voertuigsleutels gebuit en op die vlug geslaan.

Claasen is in ʼn kritieke toestand agtergelaat en kort daarna in ʼn privaat hospitaal in Bloemfontein opgeneem.

Volgens Makhele het die persoon wat Claasen se woonstel opgepas het terwyl hy in die hospitaal was Sondag by die Parkweg-polisiestasie aangemeld dat daar by Claasen se motorhuis ingebreek is. Sy silwer Renault Clio is glo uit die motorhuis gesteel.

ʼn Saak van motordiefstal is aanhangig gemaak.

“Die voertuig is deur die Parkweg-polisiespan opgespoor en in Zastronstraat gevind,” sê Makhele.

Die polisie het daarna ʼn 30-jarige man van Rocklands in Mangaung in hegtenis geneem wat glo berug is daarvoor dat hy motors steel. Dié man se inhegtenisneming het daartoe gelei dat die Parkweg-polisie nóg vier ander verdagtes, onderskeidelik 20, 31, 30 en 35 jaar oud, by hul huise in onderskeidelik Grassland en Heidedal in Mangaung digby Bloemfontein in hegtenis geneem het.

Die saak van motordiefstal is met die saak van huisroof verbind en die verdagtes word vir albei misdrywe aangekla. Hulle sal na verwagting Donderdag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fedup ·

Sorry this happened to you. I’m just wondering. Who will be there targets when whites are gone?

JM ·

En waar is die klag van “aanranding met die doel om ernstig te beseer” (of selfs te dood)?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.