Vier mans en ʼn vrou is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn Wes-Kaapse polisiebeampte.
“Vyf verdagtes tussen 26 en 31 jaar oud is vroeg Saterdagoggend aangekeer,” het kol. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die vyf is in Mfuleni in hegtenis geneem.”
Sersant Xolisa Mlindwa se liggaam is Maandag langs sy motor in Faureweg in Mfuleni aangetref. Hy het ʼn paar skietwonde gehad. Mlindwa (41) was by die Gugulethu-polisiestasie gestasioneer.
“Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens tydens die inhegtenisneming,” het Kinana bygevoeg. “Een daarvan was Mlindwa se dienswapen.”
Die verdagtes is tans in aanhouding en sal na verwagting Maandag in die Blue Downs-landdroshof verskyn op aanklag van moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.
Twee polisiebeamptes, sers. Sibongile Ngcawuzele (37) en konstabel Monwabisi Khaka (33) is verlede Sondag in Nyanga doodgeskiet terwyl hulle aan diens was. Hul dienspistole is ook gesteel. Kinana het Sondag gesê daar is nog nie enige vordering met dié saak gemaak nie. -SAPA
Lees ook:
Vyf polisiebeamptes in vyf dae vermoor