Vyf vas vir moord, roof en kapings

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Vier mans en ʼn vrou is in Katlehong, oos van Johannesburg, in hegtenis geneem in verband met ʼn string rooftogte, ʼn moord en kapings.

Hoofsupt. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, het gesê daar is op ʼn gesteelde vuurwapen, ʼn speelgoedgeweer, drie gesteelde voertuie, 24 selfone, bankkaarte en beursies beslag gelê.

Die metropolisie het die verdagtes vir vyf dae dopgehou nadat ʼn wenk ontvang is. Twee van die mans en die vrou is in Phooko in hegtenis geneem terwyl die ander twee mans in Phadima in hegtenis geneem is.

Die voertuie waarop beslag gelê is sluit in ʼn Toyota Corolla, ʼn Toyota Conquest en ʼn VW Golf 5. Die motors is tydens Augustus en September in Springs, Benoni en Meyerton gekaap.

Kgasago het gesê daar word ondersoek ingestel na die verdagtes se betrokkenheid by ʼn vlaag misdade wat die afgelope tyd in Ekurhuleni gepleeg is.

Die verdagtes sal binnekort in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.