Vyf vas vir polisiemoorde

(Argieffoto)

Vyf verdagtes is in hegtenis geneem nadat die liggame van twee polisiemanne in ʼn uitgebrande motor in Noordwes gevind is.

Die verdagtes is vroeg Woensdagoggend deur lede van ʼn spesiale taakmag, onder wie lede van die Valke, in Logageng, ʼn informele nedersetting in Noordwes, aangekeer.

Maroela Media het vroeër berig twee polisiebeamptes verbonde aan die polisiestasie in Mareetsane in die Ngaka Modiri Molema-distrik, het Maandagaand vermis geraak nadat hulle op klagtes in die omgewing gereageer het.

Die skofbestuurder het later na die polisiemanne gaan soek en op twee verkoolde liggame in ʼn polisievoertuig in die bosse by Moseta afgekom.

Uit inligting wat intussen aan die lig gekom het, blyk dit konst. Simon Ngakaemang Ntsekeletsa (50) en sers. Mojalefa Horatius Molete (42) het kort voor hul verdwyning Maandag afgekom op ʼn voertuig vol vermeende gesteelde bokke. Hulle het die fonds aan hul bevelvoerder by die polisiestasie gerapporteer en gesê hulle bring die verdagte se voertuig na die polisiestasie. “Die polisiemanne het ʼn uur later laat weet dat hulle naby die stasie is, maar toe nooit opgedaag nie. Dit is toe dat ʼn soektog van stapel gestuur is,” het kapt. Tlangelani Rikhotso, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê.

Die polisie is op die verdagtes se spoor gesit deur lede van die gemeenskap wat die polisie Dinsdag ingelig het oor bloedvlekke op die pad na die polisiestasie. “Toe polisielede ondersoek instel, het hulle op ʼn bloedbevlekte mes en ʼn polisiekenteken wat aan een van die oorledenes behoort, afgekom. Die tweede polisiekenteken is ʼn ent daarvandaan gekry.”

Rikhotso sê die polisie het alle leidrade opgevolg en onverpoos gewerk totdat hulle die vyf verdagtes voorgekeer het. Dié was glo in besit van ʼn 5 mm-pistool en ʼn hammer. Bloedbevlekte klere en ʼn voertuig is ook op beslag gelê.

“Ons hoop dat die gesinne van ons gestorwe polisielede ʼn mate van troos sal vind in die wete dat verdagtes aangekeer is en ons sien uit dat die skuldiges suksesvol vervolg word,” het lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, gesê.

“ʼn Aanval op die polisie is ʼn aanval op die staat en ons sal al die bronne tot ons beskikking gebruik om te verseker dat dié wat ons manne en vroue in blou bedreig, die volle mag van die wet ervaar.”

Die verdagtes sal op 30 Julie in die landdroshof in Ganyesa verskyn op aanklagte van moord, kwaadwillige beskadiging van eiendom en besit van ʼn gesteelde vuurwapen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
E

Ek sien nie ‘n klag van veediefstal nie. Wat het van die bokke geword? Dit se net daar is meer skuldiges betrokke. Ek is jammer vir die arme familie. Gerergtigheid gaan oor jare eers gebeur, indien ooit.

TO

My hart gaan verseker uit na hierdie families wat iemand moes verloor omdat hulle hulle werk gedien het. Maar sjoe dis wonderbaarlik wat gedoen kan word as jy wil. Ek wag al 13 jaar vir net ‘n aksie inligting oor my kind se moord, in die fleur van sy jong lewe. Maar nee sonder om my in kennis te stel sluit die hof die lêer. Maar weer net ‘n bewys van nie wat jy weet, maar wie jy ken en dat hier regstelsel onderskeid tref.