Twee vroue en drie mans is Dinsdagaand tydens ʼn gesamentlike poging van die polisie en Johannesburgse metropolisie in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn egpaar van Vereniging.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, het Woensdag gesê die verdagtes is in Orange Farm en Everton, suid van Johannesburg, in hegtenis geneem.
Hulle word moontlik verbind aan ʼn saak van ʼn egpaar wat in Januarie by hul huis in Vereeniging vermoor is. Die name van die slagoffers kon nie dadelik vasgestel word nie.
“Die verdagtes was in besit van ʼn Norinco-pistool en ammunisie wat vermoedelik aan die egpaar behoort het,” het Minnaar gesê.
Hulle was ook in besit van ʼn haelgeweer, ʼn speelgoedgeweer en ander ammunisie.
Die verdagtes moet binnekort in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.