Vyf vas wat glo met noodsaaklike infrastruktuur peuter

Die kabels waarop beslag gelê is (Foto: Verskaf)

ʼn 48-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy glo met noodsaaklike infrastruktuur gepeuter het en koper- en elektriese toevoerkabels gesteel het.

Toevoerkabels ter waarde van R380 000 sowel as koperkabels ter waarde van R150 000 is in sy besit gevind.

Kol. Athlenda Mathe, woordvoerder van die polisie, sê die inhegtenisneming was die gevolg van ʼn gesamentlike operasie deur lede van die polisie en die Passasierspooragentskap (Prasa) wat ten doel het om die diefstal en beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur in die spoorwegdiens hok te slaan.

“Die polisie het ook beslag gelê op ’n bakkie en gereedskap wat glo gebruik is om aan die infrastruktuur te peuter, ” sê Mathe.

Die man is tans by die Hercules-polisiestasie in Pretoria in aanhouding en sal na verwagting eersdaags in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Die bakkie en toerusting wat tydens die misdaad gebruik is, is ook gekonfiskeer (Foto: Verskaf)

In ʼn ander voorval in Gauteng is vier verdagtes in Germiston vasgetrek nadat hulle glo ook met noodsaaklike infrastruktuur gepeuter het. Die mans is ook in besit van koperkabels ter waarde van R14 483 gevind.

Die gereedskap wat gebruik is om aan die infrastruktuur te peuter, is ook op beslag gelê.

Mathe sê die vier verdagtes word by die Germiston-polisiestasie aangehou. Hulle sal ook eersdaags in die landdroshof in Germiston verskyn op aanklagte van die peuter met noodsaaklike infrastruktuur.

“Ons waarsku gemeenskappe om nie aan noodsaaklike infrastruktuur te peuter nie omdat dit daartoe kan lei dat duisende pendelaars gestrand sit omdat hulle nie met die trein kan ry nie. In sommige gevalle kan dit ook lewensverlies veroorsaak weens die ontsporing van die trein.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Thelsa ·

Hierdie PERSONE werk nie alleen en in afsondering nie. Daar moet BAIE hulp wees om so-iets te kan doen. Hierdie PERSONE is buitendien binnekort op borgtog uit en gaan dan rustig voort. Die hele netwerk moet gearresteer word insluitende SKROOTHANDELAARS.

Vriendelike Frikkie ·

PRASA het ook baie skuld aan die diefstal. Capital se spoorweggronde het geen hekke of heinings wat werk nie. ‘n Groep onwettige immigrante het ‘n hele plaas op die spoorweggronde opgerig. Onwettige krag aansluitings, waterkoppelings, staalwerke, diere wat los loop, mense wat in motorwrakke bly, sinkhutte ens. Die diere sluit in varke, ganse, hoenders. PRASA het tot op hede nog nie soveel as gaan kyk nie. Daar is geen patrollies om heinings en hekke na te gaan nie. Selfs die SPCA was al soontoe ontbied en niks kom daarvan nie. Dis gladnie vreemd om te sien hoe die spoorweë dag vir dag gestroop word nie. Betreding is ook volgens ons SAPS nie misdaad nie. (Het bewyse)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.