Vyf verdagtes dalk met talle onopgeloste sake verbind

Argieffoto: Nico Strydom

Die Gautengse polisie hoop dat die inhegtenisneming van drie vermeende huurmoordenaars en twee vermeende reeksinbrekers die deurbraak kan gee in talle ander onopgeloste ernstige en geweldsmisdaadsake.

Drie verdagtes is Dinsdagoggend by die Olievenhoutbosch-taxistaanplek ná ʼn skietery vasgetrek. Die polisie vermoed hulle kan met verskeie sake verbind word wat met taxigeweld verband hou.

“Drie mans is gisteroggend in die hospitaal opgeneem nadat hulle by die Olievenhoutbosch-taxistaanplek geskiet is,” het kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. “Drie verdagtes het in ʼn swart BMW-sedanmotor by die staanplek opgedaag en lukraak op mense begin skiet. Die drie slagoffers is in hul bene en arms gewond.”

Dlamini sê die skieters het hul voertuig net daar gelaat en op die vlug geslaan. “’n Paar uur later het die verdagtes in ʼn ander voertuig, ʼn swart Mercedes Benz Viano, teruggekeer om die BMW te kom haal. Hulle is op die plek in hegtenis geneem.”

Volgens Dlamini is daar tydens die inhegtenisneming beslag gelê op die twee voertuie, asook ʼn AK47-aanvalsgeweer en ʼn 9 mm-pistool.

Beamptes van die provinsiale taakspan het kort daarna inligting opgevolg oor ʼn voertuig wat glo tydens ʼn gewapende rooftog in Sandton, asook verskeie huisbrake in die provinsie, gebruik is. “Twee verdagtes is agtervolg terwyl hulle verskeie huise beloer het. Polisiebeamptes het hulle gekonfronteer en in hegtenis geneem. Die verdagtes se Honda Jazz is deursoek en verskeie items wat tydens huisbrake in Parkhurst en Parkview gesteel is, is in die voertuig gevind, tesame met toerusting wat tydens inbrake gebruik word,” sê Dlamini.

ʼn Verdere ondersoek het die twee verdagtes ook verbind met gewapende rooftogte in Norwood en Sandringham. Een van die verdagtes is ook op die polisie se ondersoeklys in verband met ʼn moordsaak in Hillbrow.

Dlamini sê die polisie is tans besig om dossiere van onopgeloste sake na te gaan om te kyk of enige van die vyf verdagtes met dié sake verbind kan word.

Die drie verdagtes wat in Olievenhoutbosch in hegtenis geneem is, sal binnekort in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord en besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

Die ander twee verdagtes sal in die Alexandra-landdroshof verskyn op aanklagte van sameswering om misdaad te pleeg, besit van gekaapte voertuie en besit van huisbraaktoerusting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

alida ·

Mooi so SAPD trots op julle. Sluit toe asb. If you do the crime you do the time.

Pieterv ·

Goed gedaan aan die manne en vroue wat hard probeer!!
Kom ons hoop nou maar die manne en vroue by die stasies laat díe spul nou nie weer toe om te “ontsnap” nie.

Geregtigheid ·

Fantasties om te lees SAPD nou bietjie werk. Hou so aan en probeer keer dat die skelms in die tronk bly.

Johnnie ·

Dis goed en wel dat ons die polisie prys vir die goeie werk wat hulle gedoen het, maar kom die spul in die hof dan dan kry hulle weer borg en is hulle uit om maar net weer voort te gaan met hulle misdade, of hulle betaal weer een of ander korrupte beampte geld en hulle goed raak weg of hulle word gehelp om te ontsnap. Dis mos maar hoe dit gaan in hierdie land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.