Vyf verdagtes dood tydens skietgeveg met polisie

Argieffoto

Vyf vermeende rowers is Maandagoggend tydens skietgevegte met die polisie in Durban doodgeskiet.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê veiligheidswagte het omstreeks 10:05 kontant by ʼn winkelsentrum in Springfield afgehaal toe hulle deur ʼn groep gewapende rowers oorval is. Die rowers het vuurwapens op die veiligheidswagte gerig en ʼn houer vol kontant by hulle afgeneem.

Die polisie is ontbied en was vinnig op die toneel, waarna ʼn skietgeveg tussen die polisie en die verdagtes ontstaan het. “Een verdagte is op die toneel doodgeskiet, terwyl ʼn tweede verdagte gewond is. Twee ander verdagtes is in hegtenis geneem,” het Gwala gesê.

Die ander verdagtes het in ʼn Mercedes-motor van die toneel in die rigting van Newlands gevlug. Polisiebeamptes het hulle agternagesit en ʼn hoëspoed-jaagtog het gevolg. “Die verdagtes het aangehou om op die polisie te skiet en die polisie het teruggeskiet. Vier verdagtes is doodgeskiet,” het Gwala gesê.

Volgens Gwala word sake van transitoroof, poging tot moord, besit van gesteelde goedere en die onwettige besit van vuurwapens ondersoek. ʼn Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.

Die drie verdagtes wat in hegtenis geneem is, sal in die hof verskyn sodra hulle aangekla is.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het vroeër gesê twee omstanders is ook tydens die skietery gewond.

Genl.maj. Bheki Lange, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het gesê daar sal ondersoek ingestel word of die verdagtes met ander rooftogte in die provinsie verbind kan word. “Ons wens alle omstanders wat tydens die skietery gewond is ʼn spoedige herstel toe,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Leahim ·

En die naweek ontsnap die drie verdagtes weer uit die polisie selle
Of hulle makkers stop net weer die voertuig wat hulle hof toe vat
Of hulle ontsnap terwyl die polisie kos koop by die garage

Pieter ·

Daar is nou 5 goeie skurke wat nie weer ons lewens kan verpes nie. Baie geluk SAPD in KwazuluNatal. Leer asb julle kollegas in Gauteng hoe om die ding te doen.

Andre van der bank. ·

Genade, seker dit was nie n rolprent wat hulle besig was om te skiet nie?

Hennie ·

En skielik gaan daar minder rooftogte in die omgewing wees. Dis wat moet gebeur, skiet hulle dood want more ontsnap hulle of word op borg vrygelaat om verder te roof en te moor.

Pop ·

Weekliks word daar skurke hier doodgeskiet in KZN. Ons is baie trots op hulle.

Buitestander ·

Dit word verkiesings tyd en daarvoor is daar baie geld nodig vir omkoop, moord, intemedasie nodig.
Transito rooftogte neem hand oor hand toe in ons mooi land toe.
Wakker loop wanneer kontant handeer word. Moet nie binne inligting vergeet nie.

Karma ·

Twee liedjies kom skielik op in my kop:

“That’s the way I like it, a-ha-a-ha ….. That’s the way I like it” en
“Another one bites the dust …. and another one bites the dust”

Rowers: 0
SAPD: 5

“Great stuff guys!”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.