Vyf verdagtes in Senzo Meyiwa-moord in hof

Die vyf beskuldigdes het Dinsdag vir die eerste keer in verband met die saak in die Boksburg-landdroshof verskyn. (Foto: ANA)

Die vyf verdagtes wat ses jaar na die moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa (27) aangekeer is, het Dinsdag in die Boksburg-landdroshof verskyn.

Muzikawukhulelwa S’themba Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokoziseni Ziphozonke Maphisa en Sifokuhle Nkani Ntuli Sifiso is volgens die polisie gisteroggend in onderskeidelik Gauteng en KwaZulu-Natal in hegtenis geneem.

Hulle staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Die vyf het nie aansoek gedoen om borgtog nie, omdat hulle reeds in aanhouding vir ander sake is. Die saak sal na verwagting ook na die hooggeregshof oorgeplaas word.

Meyiwa is op die aand van 26 Oktober 2014 by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis in Vosloorus doodgeskiet. Volgens die staat het twee mense omstreeks 20:00 daardie aand in die huis, waar verskeie ander mense teenwoordig was, ingebars. Hulle was gewapen met ʼn vuurwapen en mes en het geld en selfone geëis.

ʼn Stoeiery het tussen Meyiwa en die aanvaller met die vuurwapen ontstaan. Dié persoon, lui die staat se weergawe van gebeure, het Rasta-lokke en ʼn goue repie op een van sy tande gehad en het ʼn khakikleurige baadjie gedra.

ʼn Skoot het afgegaan wat Zandile Lorraine Khumalo – Kelly se suster – in die enkel getref het nadat dit van die vloer af opgeslaan het. Die aanklag van poging tot moord spruit uit dié skoot.

ʼn Tweede skoot is afgevuur en Meyiwa is in die bors geskiet. Die koeël is deur sy liggaam en het ʼn agterdeur, waarteen Meyiwa gestaan het, getref.

ʼn Selfoon is van Kelly Khumalo geroof, waarna die rowers gevlug het. Volgens die staat het ʼn hoed op die perseel agtergebly.

Meyiwa is na die Botshelong-hospitaal in Vosloorus geneem waar hy kort na sy aankoms, omstreeks 21:15, dood verklaar is.

Luidens ʼn dokument van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wat aan die media uitgelek is, is heelwat inligting en verklarings in die ondersoek nog uitstaande.

Dit sluit in ʼn verduideliking van hoe die uitwysings wat beskuldigde een en twee (Sibiya en Ntanzi) gedoen het, by die saak inskakel. Die ondersoekbeampte moet ook ʼn verklaring indien oor die verloop van gebeure en omstandighede wat tot beskuldigde een (Sibiya) en twee (Ntanzi) se bekentenisse gelei het. Daar hang ook ʼn vraagteken oor hoekom beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie – en nie polisielede nie – gebruik is om die verdagtes vir die bekentenisse te vervoer.

“[S]elfoonrekords van me. Kelly Khumalo, wat haar kommunikasie met die beskuldigdes aandui moet bekom word, soos voorheen aangedui,” lui die dokument.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die NVG, het oor die uitlek van die dokument gevra dat niks gedoen moet word om die integriteit van die regsproses in die gedrang te bring nie. “Ons moet almal saamwerk, vir Senzo en vir Suid-Afrikaners, om te verseker dat die saak nie ontspoor nie en dat die regte mense tronk toe gestuur word en boet vir wat gebeur het,” het hy gesê.

Adv. Gerrie Nel, verbonde aan die burgerregtegroep AfriForum se private vervolgingseenheid, het Maandag gesê die voorval was nie ʼn rooftog wat skeefgeloop het nie, maar ʼn sluipmoord en dat die meesterbrein agter die sameswering ook aan die pen moet ry.

AfriForum, wat die Meyiwa-familie in die ondersoek na die moord verteenwoordig, het die polisie gister geloof vir die deurbraak, asook die feit dat die polisie die afgelope paar maande bereid was om Nel en die eenheid by die ondersoek te betrek.

“Ek is bekommerd, ek dink ons moet almal bekommerd wees. Wat vandag in die hof gebeur het, stem nie ooreen met dit wat die polisie vir ons gesê het nie. Ek is steeds waar ek gister was en dit is dat hierdie ʼn sluipmoord was,” het Nel vandag buite die hof gesê.

“Dit gaan verseker dat ons betrokke bly. Ons het nou ʼn groter rol om te speel om te verseker dat die oënskynlike teenstrydigheid tussen die polisie en NVG nie van so ʼn aard is dat dit die saak benadeel nie.”

Meyiwa se broer, Sifiso, was Dinsdag saam met verteenwoordigers van AfriForum in die hof.

Die saak teen die vyf beskuldigdes is tot 27 November uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tanniepetoors

Groot slange in die gras met hierdie saak

Jaco

Dis seker baie edel van Afriforum om by dié saak betrokke te wees, maar 2 goed pla wel: 1. Hulle verteenwoordiging van swart mense gaan deur ons anti-wit regering gesien word as sogenaamde “window dressing”, ‘n poging van ‘n, volgens die ANC, “wit regse rassistiese organisasie” om “non-racial” te lyk. Hulle hou nie van wit mense nie. Punt. Watse mooi goed ons ook al doen, sal ALTYD afgeskiet word. 2. Wat van sake van ons eie mense?Eendag wen Afriforum dalk dié saak en kry al die verering en “limelight”, maar dan is hulle geld ook op en dan is Afriforum… Lees meer »