Vyf vra dan borgtog ná Polokwane-dubbelmoord

Die twee vroue wat vermoor is (Foto: Facebook)

ʼn Gautengse sakevrou se man en nog vier verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op haar en nog ʼn vrou sal nou eers volgende week om borgtog aansoek doen.

Makoena Mabusela-Leshabane (46) en Tebogo Mphuti (35), ook ʼn sakevrou, is op 10 Oktober doodgeskiet waar hulle in ʼn luukse motor in die Magna Via-nywerheidsgebied gesit het. Hulle het vroeër met ʼn eiendomsagent ooreengekom om daar te ontmoet om na sakepersele te kyk.

Thabo Stanley Leshabane (57), John Zulu (30), Ndondo Buthelezi (25), Bhekimeze Phiyose (34) en Thembelani Dlamini (30) is kort ná die moorde in hegtenis geneem en staan tereg op twee aanklagte van moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die moordtoneel in Polokwane. (Foto: SA Polisie)

Die vyf verdagtes het Maandag vlugtig in die Polokwane-landdroshof verskyn en die saak is tot 10 November uitgestel wanneer hulle om borgtog aansoek sal doen.

Leshabane is in ʼn hospitaal in hegtenis geneem nadat hy glo selfmoord probeer pleeg het.

Die ander vier verdagtes is onder meer in Ekurhuleni, Elsburg, Katlehong en Germiston in Gauteng aangekeer.

Die polisie het beslag gelê op die rooi Hyundai Accent wat vermoedelik in die uitvoering van die moorde gebruik is, twee vuurwapens, twee magasyne en 13 patrone tydens die klopjagte wat in die vroeë oggendure gehou is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

GEEN BORG vir moordenaars!

Gert Johannes

Bring doodstraf terug, dit sal darem die moordenaars minder maak en ‘n beter afskrik middel wees.