Vyf weer in hof oor wrede moord op paartjie

Familie en vriende van Jeanette Cindi (34) en Lungelo Buthelezi (31). Foto: Lindi Msinga / ANA

Die verhoor van vyf mans wat aangekla word van die wrede moord op ʼn Johannesburgse paartjie is Maandag weer in die Suid-Gautengse hooggeregshof uitgestel.

Staatsaanklaer Carla Brits het aan regter Ramarumo Monama gesê dat daar nog nie regshulp-prokureurs aan die beskuldigdes toegeken is nie. Die saak moes reeds by twee vorige geleenthede uitgestel word vir die beskuldigdes om vir regshulp aansoek te doen.

Bheki Mzama (28), Sabatha Matoko (30), Lindokhule Tembani (24), Thamsanqa Msezane (21) en Londani Mzama (23) staan tereg op twee aanklagte van moord, drie van verkragting, ontvoering, roekelose en nalatige bestuur en roof met verswarende omstandighede.

Monama het die saak tot 23 Julie uitgestel en beveel dat die regshulpkwessie onmiddellik aandag geniet.

“Op dié dag sal ons presies weet wie die verhoor gaan doen en weet of konsultasie gedoen is,” het Monama gesê.

Die vyf mans word daarvan beskuldig dat hulle Jeanette Cindi (34) en haar vriend, Lungelo Buthelezi (31), in April verlede jaar vermoor het toe die paartjie in Kagiso in die weste van Johannesburg huis toe gestap het nadat hulle die aand gekuier het.

Buthelezi is glo raakgery deur ʼn taxi. Die verdagtes in die taxi het glo stilgehou en gesê hulle sal die beseerde Buthelezi hospitaal toe neem. Cindi, wat vyf maande swanger was, is herhaaldelik verkrag, gestenig en aan die brand gesteek. Buthelezi is ook gestenig en aan die brand gesteek.

Die hof was Maandag volgepak met lede van die Kagiso-gemeenskap wat daar was om Cindi en Buthelezi se families te ondersteun.

“Ek is nie gelukkig nie. Dit is soos ʼn speletjie. Hoe lank gaan dit duur voordat hulle ʼn prokureur het? Ons wil hê hierdie saak moet klaarkry,” het Cindi se suster, Clowy, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KR ·

“verswarende omstandighede” BULL. As jy so wreed is, en verkrag ook, is daar géén verswarende omstandighede nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.