Vyfde dag van soektog na Pta-ma hervat

Madelein Murray en haar seun, Hanco. Foto: Facebook

Madelein Murray en haar seun, Hanco. Foto: Facebook

ʼn Volskaalse soektog na Madelein Murray (40), die sakevrou en ma van vyf kinders wat Vrydagoggend deur vloedwater in Pretoria meegesleur is, is Dinsdagoggend hervat.

Die vier dae lange soektog het tot dusver niks opgelewer nie en is Maandagaand weens swak sigbaarheid opgeskort. Dit het Dinsdag met dagbreek hervat.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het vroeër aan Maroela Media gesê hoewel die watervlak gedaal het, word die soektog bemoeilik deur talle opdrifsels langs die rivier en talle klippe, boomtakke en stompe in die water.

“Dit is ʼn moeilike soektog en die soekgeselskap moet kilometers ver in ongemaklike toestande soek. Soek- en reddingswerkers, die gemeenskap en die polisie se honde-eenheid fynkam die oewers van die Apiesrivier en die polisie se duikeenheid soek in die Bon Accorddam. Die soekgebied strek oor sowat 13 km van die laagwaterbrug in Flowerstraat in Capital Park tot waar die rivier in die dam vloei, en dan die dam self,” het Pieterse gesê.

Madelein is die eienaar van Scrap Zone Recyclers, ʼn skrootwerf in Pretoria se middestad. Sy is die ma van vier seuns en ʼn dogter tussen ses en 20 jaar oud.

Sy en haar oudste seun, Hanco (20), was in sy voertuig, ʼn Nissan Skyline, toe dit omstreeks 03:00 in vloedwater in die Apiesrivier beland het. Volgens Henco het hy bestuur toe ʼn fratsgolf die motor op die laagwaterbrug in Flowerstraat getref en in die rivier ingedruk het.

Hy het haar verbete probeer red, maar die vloedwater het haar uit sy greep gespoel. Hy het ʼn ent van die brug self tot by die oewer gekom en hulp by ʼn vulstasie ontbied. Die motor se erg beskadigde wrak is omstreeks 09:00 gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sterkte ·

Baie baie sterkte vir hierdie gesin, veral vir jou Hanco, hoop regtig vir ‘n wonderwerk, maar as dit nie kom nie, seun, gryp die lewe,jy het gedoen wat jy kon. Gryp die lewe en doen wat sy sou wou hê jy moes doen, voorvat en in haar spore loop en die kleintjies versorg, dit is baie vir ‘n jong man, maar ons sal elke dag vir krag bid vir jou!

Sarie ·

Wàt ‘n aaklige ervaring moes dìt nie gewees het nie… Sterkte Hanco.. Ek vertrou dat daar famielie & vriende is om jou by te staan…

charlene ·

Ek wens net daai brug kan gesluit word as dit reen! Dis is `n gevaar – al is hy reeds gelig. Mens is altyd onseker oor hoe diep die water oor die brug spoel. Dit is tragies om hier te lees, en al wat die familie kan doen is aan `n bietjie hoop vasklou. Hanco ek het nie woorde nie – niks kan wat jy voel beter maak nie. Maar ek hoop die familie ondersteun jou, en jou vriende wat hierdeur moet jy nie alleen gaan nie.

suzi ·

Volgens netwerk 24 was daar n wending in soektog vanoggend. Asb Maroela deel dit met ons. Ek koni berig lees maar vermoed sy is gevind

Landi Slatter ·

Dagsê Suzi

Dankie vir jou navraag. Sy is inderdaad nog nie gevind nie. Die ‘wending’ was dat ‘n snuffelhond ‘n dooie baber onder klippe geruik het. Hou Maroela Media gerus dop vir enige verwikkelinge in die saak.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Belinda ·

Vreeslike storie dink aan ieder en elk…………sterkte!

Rita ·

Ai dis so hartseer. Ons bid hard dat sy lewend gevind moet word maar die tyd wys anders. Hanco ons dink aan jou, jou gesin en familie en dra julle op. Mag God julle dra in die swaar tyd.

Jonothan Hen-Boisen ·

Ek hoop ons niggie word gevind! #bringmadeleinhome

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.